Pretoria
Pretoria
Die Jakarandastad het vele besienswaardighede vir die hele gesin. Hier is ’n paar dinge waarmee jy jou besig kan hou in Pretoria.
Die Nasionale Botaniese Tuin bied natuurliefhebbers die geleentheid om op ’n staproete te gaan. Vir meer inligting oor begeleide toere vir groepe bel Khangela Baloyi by 012 843 5194.
Al ooit gewonder hoe dit voel om in ’n klassieke, gerestoureerde stoomtrein te ry? Friends of the Rail bied uitstappies op verskeie roetes, insluitend ’n toer om Pretoria. Vir meer inligting oor dié toere bel Arno of Billy by 012 548 4090.
Laat jou hart ’n bietjie vinniger klop met ’n toer deur Pretoria se spookhuis, ook bekend as die Erasmuskasteel, in Waterkloof. Die naam Spookhuis het in die 1950’s ontstaan toe ’n Afrikaanse spookrolprent, Hier’s ons weer, op die terrein van die kasteel verfilm is. Dit is ook ’n nasionale gedenkwaardigheid.
Besprekings vooraf is noodsaaklik. Bel dr. Don Roos by 012 803 1632
Die Nasionale Dieretuin is in 1899 gestig en word as een van die bestes ter wêreld beskou. Dié dieretuin is die enigste in Suid-Afrika met nasionale status en spog met die grootste binnelandse seewatertenk in die land. Vir meer inligting besoek
www.zoo.org.za of skakel 012 328 3265.
Die Voortrekkermonument
Op 16 Desember 1949 is die Voortrekkermonument, wat ter ere van die Voortrekkers deur die argitek Gerard Moerdijk ontwerp is, op ’n hoë koppie suid van Pretoria ingewy. Die Heldesaal bevat een van die wêreld se langste historiese marmerfriese. ’n Vlak laer af is die Senotaafsaal met die sentrale Senotaaf, historiese vlae en kultuurhistoriese voorwerpe. ’n Tapisserie met meer as drie miljoen borduursteke beeld die verhaal van die vrou en kind tydens die Groot Trek uit en ’n reusagtige skildery deur W.H Coetzer verbeeld die trek oor die Drakensberg. In die kelderverdieping is die Voortrekkermonument-museum.
Erfenissentrum
Die Erfenissentrum wat bestaan uit ’n argief, biblioteek, navorsingsentrum en uitstalruimte is op 5 September 2008 amptelik ingehuldig. Die tema van die uitstalling op die boonste vlak van die sentrum is: Afrikaners in die 20ste eeu; baanbrekers, bakens en brûe; “poskaartflitse” uit die geskiedenis.
Galery 20/20
Allerlei kunsskatte word in dié galery uitgestal. Die galery is ook beskikbaar vir privaatuitstallings
Fort Schanskop
Hiérdie fort uit die Anglo-Boereoorlogtydperk is een van vier wat in 1897 deur pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaansche Republiek na die Jameson-inval in 1896 gebou is om Pretoria te beskerm.