Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Om ’n skool se hartklop te voel

Hy neem die leisels by een van die beste skole in Gauteng oor en gaan vir eers net fyn kyk en luister na die taal wat die skoolgemeenskap praat.

Schalk Reynders, nuut aangestelde hoof van die Hoërskool Menlopark in Pretoria, is baie opgewonde oor dié nuwe uitdaging.

Hy is reeds 28 jaar in die onderwys en was die afgelope 17 jaar by die Hoërskool Monument in Krugersdorp.

Sedert 2004 was hy adjunkhoof en het bewese ervaring in die bestuur van ’n makroskool gekry.

Reynders het in 1975 aan die Hoër Seunskool Helpmekaar gematrikuleer en sy grade, waaronder ’n MSc (wiskunde), aan die destydse RAU verwerf.

Hy glo baie sterk in ’n akademiese fokus, maar het op sportgebied hom ook as afrigter van atletiek, krieket en rugby onderskei.

Veral in rugby het hy uitsonderlike prestasies behaal en hy was gedurende 2007 en 2008 afrigter van die Leeus se Cravenweek-rugbyspan.

Reynders sê hy het vir homself bepaalde doelwitte gestel en wil ’n positiewe bydrae ten opsigte van die skool, die personeel, leerlinge en gemeenskap lewer.

“Maar om dit op die regte wyse aan te pak, sal mens eers fyn moet waarneem, luister na die mense wat reeds dié mooi skool se taal praat en dán besluit hoe om die koring van die kaf te skei en die pad te loop wat uiteindelik vir almal suksesvol sal wees.”

Behalwe die onderwys is daar niks meer bevredigend vir Reynders as om ’n stuk hout nuwe lewe te gee of ’n afgeleefde meubelstuk in ’n pronkstuk te verander nie.

Wanneer hy met hout werk, is dit ook tyd om kop skoon te maak.

Hy is getroud met Reneé, ’n onderwyseres by die Roodepark-skool vir gestremdes.

Hulle het een seun, Stefan (29), en twee dogters, Nadia (26) en Merike (23).

Reynders ry nog elke dag van Roodepoort na Pretoria, maar beplan om na Pretoria te verhuis sodra sy vrou ’n oorplasing kry.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom