Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Fotograaf reik uit na straatseun met foto

Vir Rey Vladyc Mangouta (26) is fotografie meer as net ’n kunsvorm dit is ’n hulpmiddel wat ’n werklike verskil in iemand se lewe kan maak, ongeag hul omstandighede.

Mangouta, ’n fotograaf van Moreletapark in Pretoria-Oos, het onlangs ’n foto van ’n jong straatbedelaar, wie se naam onbekend is, geneem en ná weke se gesoek uiteindelik die foto by hom uitgekry.

Dit het alles begin toe Mangouta en ’n groep fotograaf-vriende een aand die strate van Hatfield ingevaar het om ’n paar nagfoto’s te neem toe dié bedelaar nuuskierig naderstaan.

“Ek ken die seun goed omdat ek hom altyd sien wanneer ek in Hatfield is,” vertel Mangouta.

“Toe ek sien hy staan nader uit nuuskierigheid en nie om geld te bedel nie, het ek hom gevra of hy wil hê ek moet ’n foto van hom neem.

“Hy was so verras en dit het my regtig verbaas,” sê Mangouta.

Die seun het geantwoord: “Van my? Yes, biggie.”

Volgens Mangouta verwys die woord biggie wat hy gereeld gebruik waarskynlik na “baas”.

“Ek het toe besef dat hy heel moontlik nog nooit ’n foto van homself gehad nie,” sê Mangouta.

Hy het toe ’n wit-en-swart A4-grootte foto van die seun laat druk en dit in sy motor gehou met die hoop om dit vir die seun te gee wanneer hy hom weer sien.

Ná ’n paar weke het Mangouta hom uiteindelik weer gesien.

“Hy was so bly oor die foto dat hy glad nie eens geluister het na enigiets wat ek sê nie,” sê Mangouta.

“Ek kon sien hy het nog nooit ’n foto van homself gehad nie en ek was so bly toe ek besef hoe magtig fotografie kan wees.”

Volgens hom het hy onlangs die inisiatief Help-Portrait ontdek wat deur die fotograaf Jeremy Cowart begin is.

Die inisiatief is soortgelyk aan wat Mangouta vir die straatseun gedoen het en hy

beplan om meer van dié tipe werk te doen.

“Dis ’n wonderlike gevoel om ’n glimlag op iemand se gesig

te sit. Deur iemand anders gelukkig te maak, skep jy ook jou eie geluk, ongeag van wat in jou eie lewe aangaan.

En jy hoef glad nie ryk te wees om dit te doen nie,” sê Mangouta.

) Vir meer inligting besoek die Facebook-blaaie Pretoria Street Photography en El Rey Photography.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom