Saterdag 19 April 2014
Tuisblad / Artikels / ‘Grepies van lewe' met ontsag uitgegee

Haar liefde vir die bewaring van boeke is soortgelyk aan dié van ’n vrou wat perskes versigtig inlê en in blink bottels verpak.

Só vertel die Pretoriase uitgewer en skrywer Theresa Papenfus (59).

Haar uitgewery of, soos Papenfus dit beskryf, “my dogter”, Litera-publikasies, is onlangs in Switserland deur die internasionale organisasie Business Ini- tiative Directions met die Crown-kwaliteitsprys vereer.

“Die ‘ma’ is veral dankbaar vir die mense wat van die begin af daar was en steeds daar is,” sê sy trots.

Die onderneming is al langer as ’n dekade op die been.

Papenfus het in 1975 as heeltydse verslaggewer by Beeld begin werk.

Ná die geboorte van haar en haar man, Awie, se eerste seun, Paul (35), het sy haar na vryskutwerk gewend. Nog twee seuns, Charl (32) en Braam (29), is later gebore.

In 2000 het Papenfus Litera-publikasies gestig.

“Die bekendstelling van Litera was in ’n Pretoriase boekwinkel gehou waartydens ek, as ’n ma van seuns, aan die doop van ’n nuweling herinner was. En met ’n naam soos Litera was dié een vir seker ’n dogtertjie, een wat baie tyd en aandag vereis,” sê Papenfus.

Vandaar die verwysing na die uitgewery as haar dogter.

Papenfus se droom was dat Litera ’n verskil sou maak, al was dit net vir een skrywer.

Litera fokus spesifiek op die uitgee van biografieë, outobiografieë, geskiedenisboeke en ’n aantal fiksie-publikasies.

In 2010 het Papenfus self die biografie Pik Botha en sy tyd geskryf en uitgegee.

Hoewel sy baie lief daarvoor is om self te skryf, is die uitgee en publisering van manuskripte, veral in dié genres, duidelik haar passie en dit speel ’n belangrike rol in haar lewe.

“Dit is amper soos bewaring.

“Dis bevredigend om grepies lewe of ervaring of verhale wat die moeite werd is, te preserveer. ’n Vrou wat perskes inlê en in blink bottels op rakke wegpak, voel dalk dieselfde oor haar werk,” sê Papenfus.

Dis nie net enige Jan Rap en sy maat wat dié uitgewer se hartsnare noodwendig kan roer nie.

“Die manuskrip moet my gryp en opgewonde maak. Ek moet glo dit sal verkoop,” sê sy.

Hoewel Papenfus “meer as voltyds” by Litera betrokke is, maak sy darem ’n bietjie tyd vir stokperdjies soos fliek, lees, stap en swem. Sy het vanjaar vir die sesde keer die Midmar-myl baasgeraak.

Sy en haar man is reeds sedert hul studentejare aan die Universiteit van Stellenbosch saam en woon nou in Brooklyn in Pretoria.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom