Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Nuus / Begraafplase: Metro sê hy sal skoonmaak

’N Pretoriase prokureur is keelvol vir die haglike toestand van die Pretoria-Oos-begraafplaas en beplan om die metroraad hof toe te sleep indien hulle nie drastiese stappe doen om verbeterings aan te bring nie.

Tshwane-Beeld het onlangs berig dat daar tydens ’n besoek aan die Pretoria-Oos-begraafplaas gesien is dat lang gras skoon oor die grafte groei en dat besoekers vir hul veiligheid vrees weens die Cemetary View-plakkerskamp reg langs dié begraafplaas.

Daan Schoeman van Schoeman en Vennote se pa en broer is in dié begraafplaas begrawe en dus lê die instandhouding van dié en ander begraafplase in Pretoria hom na aan die hart.

“Ek het op 5 Maart ’n finale aanmaning aan die metroraad gerig om alle begraafplase in orde te kry,” het Schoeman gesê.

Volgens hom het die metro positief op sy versoeke gereageer en blyk dit of hulle hul samewerking sal gee.

In die metro se terugvoering aan Schoeman het hulle onderneem dat daar onder meer ’n onderhoudspan ontplooi is om vervalle begraafplase te herstel. Die raad het die verpligting aanvaar om begraafplase te versorg en te onderhou en gesê ’n nuwe diensverskaffer sal by die Pretoria-Oos-begraafplaas aangestel word, toegangsbeheer sal toegepas word en grafte sal korrek gegrawe en in stand gehou word.

“Hoewel ek tevrede is met die feit dat die raad verantwoordelikheid vir die verval van begraafplase aanvaar, is ek nie tevrede met die gebruik van algemene terme soos “is besig” en “in die proses” nie,” het Schoeman gesê.

Hy vereis daarom skriftelike spesifikasies en sperdatums van wanneer verbeterings aangebring sal word.

Schoeman wag egter nog vir terugvoering oor die sperdatums.

“Indien die metroraad nie by sy ondernemings hou nie of weier om datums te verskaf, sal ek ’n aansoek voor die hof plaas,” sê hy.

Volgens Schoeman het hy ook voorgestel dat sy firma saam met die metro die situasie maandeliks monitor omdat “die metro nie alleen vertrou kan word nie”.

Vir die DA-wyksraadslid Lex Middelberg lê die probleem grootliks by die Pretoria-Oos-begraafplaas, hoewel ander begraafplase in die Jakarandastad ook aandag en versorging verg.

“Die plakkerskamp wek die grootste kommer. Die inwoners daar gebruik die begraafplaas as hul toegangsroete en dis te verstane dat die persone wat die begraafplaas besoek om alleen en in stilte te peins, aan gevaar blootgestel voel,” het Middelberg gesê.

Die Tshwane-metroraad het nie teen druktyd op Tshwane-Beeld se navrae gereageer nie.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom