Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Artikels / Veg vir behoud van boeredans

Die tyd van voete wat op die maat van ’n lekker sakkie-sakkietreffer wikkel, is nog lank nie verby nie.

Daarvoor sal die Pretorianer Danette Smith (41), wat kursusse vir die bevordering en behoud van boeredans aanbied, sorg.

“Dié kultuur behoort egter nie alleen aan my nie, maar ek is ’n spreekbuis en het ’n paar voete wat dit wil laat voortbestaan,” sê Smith, wat haar as ’n gebore Voortrekker beskou.

Sy het vanjaar twee kampe aangebied waar sy onderskeidelik vir kinders en volwassenes die kuns van boeredans geleer het.

Die kamp vir volwassenes het onlangs by die Voortrekkermonument plaasgevind waar die boereorkes Die Korrelkoppe opgetree het.

Dit was die derde kamp wat vir volwassenes aangebied is en is in samewerking met Transvaal- Voortrekkers gereël.

Vanweë Smith se liefde vir boeredanse en die sukses van haar eerste boeredans-kursus wat sy in 2004 vir gr. 6- en 7-leerlinge aangebied het, het die Wapadrand-boeredansgroep ontstaan.

“’n Groot ideaal en dryfveer agter die stigting van die groep was om die Afrikaner se dans-kultuur weer sigbaar te maak in Suid-Afrika en onder sy mense,” sê Smith.

“Wie weet, dalk neem ek nog boeredanse, soos uitgevoer deur die Afrikanerkind, na die buiteland ook,” voeg sy by.

Die groep se hooffokus is nie net optredes nie, maar om toeriste en plaaslike inwoners wat die Voortrekkermonument besoek te vermaak en ’n bietjie meer oor Afrikaner-boeredanskultuur te verklap.

Volgens Smith geniet toeriste dié optredes baie.

“Toeriste spring soms saam met die kinders op die dansbaan om ’n walsie of twee te probeer,” sê sy.

Die Wapadrand-boeredansgroep het die verhoog al met bekendes soos Andries Hendrik Potgieter en Sonja Heroldt gedeel terwyl sy “Tant Mossie se sakkie-sakkie- boeredans” gesing het.

Hoewel dié groep hoofsaaklik uit kinders bestaan, is daar verskeie ander groepe waarby volwassenes kan inval om boeredanse te leer en te beoefen.

“Solank die vlees en gees gewillig is, sal die klanke en danspassies aangaan,” sê Smith.

Lede hoef ook nie noodwendig deel van die Voortrekkers te wees nie.

Smith wil haar in die toekoms heeltyds op die uitbou en behoud van boeredanse onder kinders en volwassenes toespits en sê haar passie vir Voortrekkers en boeredanse is wat sal verseker dat dié kultuur voortleef.

Almal wat tot dusver al deel in die boeredanse of kursusse gehad het, is vir Smith kosbaar.

“Ons deel ’n gemeenskaplike trots op ons kultuur,” sê sy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom