Maandag 21 April 2014
Artikels / Nuus / Bedorwe brak het glad nie ’n hondelewe

Hoewel Baba Belle vier pote het en blaf, is sy allesbehalwe ’n doodgewone brakkie.

Dié driejarige papillion van Pierre van Ryneveld, in Centurion, is haar ma, Juan-Marie Rossouw (24), ’n grimeerkunstenaar, se prinses.

Baba Belle is aangewys as die Jakarandastad se mees bedorwe brokkie in Tshwane-Beeld se troeteldier-kompetisie.

Sy is op ses maande by die Tshwane-DBV aangeneem waarna sy sowaar met haar boudjies in die spreekwoordelike botter geval het.

Baba Belle kry elke jaar ’n reuse-partytjie wanneer sy in Junie verjaar.

“Ons maak haar al vroeg wakker met geskenke,” sê Rossouw.

Elke dier in die buurt, waaronder tien honde, vyf katte, twee hoenders en ’n hasie, kry ook ’n pakkie vol lekkernye en speelgoed.

“Ons nooi egter nie die ander hondjies oor om hier te kom speel nie, want Bellie is baie jaloers as ander hondjies naby my kom,” sê Rosssouw.

Benewens die tafels gedek volgens ’n tema en heliumballonne, bak sy ook vir haar ’n verjaardagkoek kompleet met karamel en versiersuiker.

“Dis die enigste dag wat sy so verkeerd mag eet,” lag Rossouw.

Sy word egter elke dag bederf, verjaardag of nie.

Rossouw sê hulle moet met elke uitstappie winkel toe maar opdok vir ’n geskenk, anders is Baba Belle baie hartseer.

“Sy kom soek dadelik deur die sakke om te kyk of ons iets vir haar gekoop het en as daar niks is nie, ignoreer sy ons en word baie depressief,” sê Rossouw, wat al eenmaal haar pantoffel as troos-geskenk moes prysgee.

Baba Belle het meer as vier groot mandjies vol speelgoed en is veral gaande oor ’n bal.

Dié viervoetige het haar eie stoel in die huis waarop sy elke dag op ’n sagte kombersie lê en by die venster uitkyk.

Bo Baba Belle se stoel pronk ’n reuse-foto van haarself.

Dié is duidelik haar terrein.

Wanneer dit by kos kom, eet Baba Belle net hoender of hoenderlewers saam met haar droeë hondekos en drink slegs gebottelde water. Maar pille in ’n hondebak soek sy beslis nie.

“Ons moet die pilletjies op die bed pak, want dis al waar sy dit wil eet. Sy word gereeld gebad, het haar eie honde-parfuum en spesiale gel vir haar tandjies.”

Kyk, dié prinses ken van gepamperlang word.

“Ek is oneindig lief vir haar en kan nie my lewe sonder haar indink nie,” sê Rossouw.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom