Donderdag 17 April 2014
Artikels / Nuus / Oudste onderwyser in Pretoria

Hoewel ’n bekende gesegde lui dat die “ouderdom met gebreke kom”, wys ’n baie besonderse man dat grysheid nie ’n stopteken vir hom is nie.

Op die ouderdom van 80 is Pieter Schutte van Pretoria-Noord nie net ’n man, pa en oupa nie, maar ook ’n voltydse onderwyser aan die Hoërskool Hendrik Verwoerd in Villieria in die Pretoriase Moot.

Hy bied die vakke ingenieursgrafika en -ontwerp en siviele tegnologie vir gr.10- en gr.11-leerlinge aan.

Schutte sê daar is drie faktore wat bepaal hoe lank hy nog in dié beroep sal wees: gesondheid, ’n beskikbare pos en of hy nog kans sien vir kinders.

“Indien een van dié drie elemente wegval, is ek uit,” sê hy.

Schutte is al meer as ’n halfeeu in die onderwys en sy geesdrif vir dié beroep straal uit hom uit.

“Dis ’n wonderlike voorreg om met jonges te kan werk en hulle te kan help om volwaardige volwassenes te word. Dit maak alles die moeite werd,” sê hy.

Schutte was jare lank ’n onderwyser by die Transoranje Skool vir Dowes waarna hy van 1990 tot 1996 die nasionale superintendent van spesiale onderwys was.

In 1996 het die tyd egter aangebreek om af te tree.

Op Vrydag 31Januarie het hy Hennie du Toit, die hoof van die Hoërskool Hendrik Verwoerd, by die distrikskantore raakgeloop.

Dit was ’n Vrydag en die dag van sy aftrede.

Du Toit het hom gevra wat sy planne verder is, waarop Schutte geantwoord het: “Nou soek ek werk.”

Toevallig het Du Toit ’n pos by sy skool beskikbaar gehad, wat hy vir een kwartaal lank aan Schutte aangebied het.

Daardie Maandag om 07:30 was Schutte op sy pos.

“Dis nou 17 jaar later en hy is nog nooit weer hier weg nie,” sê Du Toit.

“Hy is by verre my hardwerkendste en mees positiewe onderwyser en ’n besonderse mens,” voeg hy by.

Schutte woon ook nie soggens personeelvergaderings by nie, maar wag die leerlinge van die skool by die hek in om hulle te groet.

“Ek groet elke oggend sowat 400 leerlinge met die hand en maak seker ons kyk mekaar in die oë,” sê hy.

Volgens hom is groet-maniere baie belangrik en kweek dit ook wedersydse respek.

“Ek is lief vir my leerlinge en hulle vir my,” sê Schutte.

Hy en sy vrou van 53 jaar, Mattie (72), woon in die Zambezi-aftreeoord in Montana. Hulle het twee kinders en vier kleinkinders.

Schutte en sy vrou hou albei daarvan om besig te bly.

“Op ons ouderdom word jou wêreld al hoe kleiner wanneer jy stilsit,” sê Mattie.

Volgens haar is daar nooit ’n vervelige oomblik wanneer haar man in die omtrek is nie en sy sê sy is baie trots op hom.

Hy word beskou as ’n grapmaker en iemand wat altyd positief oor die lewe is.

In sy vrye tyd herstel hy graag koekoekhorlosies.

Sy leuse is: “Bly positief en skree vir die Cheetahs.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom