Van pampoendra tot pampoenpitspoeg: By dié fees gaan alles oor pampoene.
Die Goliat van Gat-pampoenfees vind vanjaar op 30 Maart by die Voortrekkermonument plaas.
“Vanjaar se fees gaan een van die grootstes wees.
“Daarom het ons besluit om dit na die Voortrekkermonument te skuif,” sê Henri Combrink, organiseerder van dié fees.
Benewens vir die grootste pampoen, is daar pryse vir die mooiste, lelikste en oorspronklikste pampoen.
Volgens Combrink het hulle die Goliat van Gat-pampoenfees op die been gebring toe hulle ’n idee gesoek het om die gemeenskap te betrek en in te lig oor die landbouproses en -probleme.
“Die antwoord was eenvoudig: pampoene.”
Mense kom vandag van heinde en ver om te kom spog met hul groot pampoene.
“Hulle bel my al vroeg in die jaar om seker te maak dat die fees nog aan is.”
Maar besoekers moenie net ’n eenvoudige pampoenskou verwag wanneer hulle dié fees besoek nie. Gaste sal hulle besig kan hou met verskillende pampoenverwante aktiwiteite. As jy nie ’n pampoenpit ver kan spoeg nie, kan jy gaan kyk hoe ver jy ’n pampoen kan dra.
Vir meer inligting bel Combrink by 082 552 9428.