Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Artikels / Voel-voel dinee in donker

Toe die blinddoeke eers aan is, droog die geselskap ook skielik op.

Dít het Saterdagaand gebeur by die Dinner in the dark-ete ten bate van die Prinshof-skool vir gesiggestremde leerlinge wat by die Lions-klub in Menlopark in die ooste van Pretoria aangebied is.

Die Prinshof-skool is vanjaar 50 jaar oud.

Gaste by die ete moes hul kos voel-voel van hul borde tot in hul monde kry omdat almal geblinddoek moes wees.

Die oomblik toe die blinddoeke aan was, het die gaste opgehou praat.

“Dit was werklik ’n ontnugterende ervaring,” het Susan Botha (42), een van die gaste, gesê.

“Ek het die grootste respek vir mense met gestremdhede gekry. Die oomblik toe ek daai blinddoek opsit, het ek weerloos en geïsoleerd gevoel. Die eenvoudigste taak, soos om koeldrank in te gooi, was ontsettend moeilik.”

Volgens Odette Gooley, organiseerder van die ete en oud-leerling van die Prinshof-skool, het sy met dié idee vorendag gekom sodat mense vir ’n kort rukkie “deur die vensters van die blindes kan kyk”.

Gooley is swaksiende en het net 10% sig.

“Ons wou ook graag op ’n unieke manier vir die skool geld insamel,” het sy gesê.

Volgens Lianie Moller, skoolhoof van Prinshof, bestee die skool, wat in die Pretoriase middestad geleë is, sowat R30000 per maand slegs aan veiligheidsmaatreëls.

“Vyftig jaar gelede was dit die ideale plek om ’n skool vir gesiggestremdes te bou. Die dieretuin was naby en die kinders kon in ’n rustige atmosfeer leer en speel.”

Vandag word die skool omring deur dwelmhandelaars en misdadigers, het sy gesê.

Marlene Swanepoel (47), ’n projekadministrateur by die Nasionale Raad vir Blindes, was ook ’n gas.

“Ek is swaksiende, maar het weerloos gevoel toe die blinddoek eers aan was. Mense het soveel vooropgestelde idees oor blinde en swaksiende mense.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom