Sondag 20 April 2014
Tuisblad / Sport / Artikels / Fiets van bamboes dra hom oor berge

Stephen Wells gaan in Mei dalk vir ’n eerste in Suid-Afrikaanse fietsry verantwoordelik wees, wanneer hy die driedaagse Sani2C-bergfietstoer in KwaZulu-Natal op ’n bamboesfiets aandurf.

In Suid-Afrika mag die idee van ’n bamboesfiets vir baie vreemd wees, maar eintlik is daar niks snaaks daaromtrent nie. Volgens ’n Google-soektog is die eerste fiets met ’n bamboesraam al in 1894 aanmekaargesit. Daar word nie gesê waar nie, maar dit was waarskynlik in China.

Wells, wat in Pretoria grootgeword het, maar deesdae in Lusaka werk, vertel dat hy daar die eerste keer van bamboesfietse bewus geraak het.

“Ek het aan die Kasanka-bergfietsren deelgeneem. Die ren het op ’n naelrit tussen my en Zambië se nasionale kampioen afgestuur.

“Ek was gelukkig en het net- net daarin geslaag om te wen. Agterna het ek gehoor die Zambiër ry op ’n bamboesfiets.

“Ek was dadelik geïnteresseerd omdat die natuur en veral plante een van my groot belangstellings is.

“Toe ek begin navraag doen, het ek uitgevind dat die maatskappy Zambike al vyf jaar lank bamboesfietse bou.

“Dit is beslis een van die omgewingsvriendelikste fietse, want benewens bamboes, word hennep en sisal, ook plantaardige materiaal, in die vervaardiging van die rame gebruik.

“Die bamboesfietsrame word met die hand gebou. Elke raam skep vir vyf mense werk.

“Nie twee rame is dieselfde nie, want die bamboes wat gebruik word, verskil van fiets tot fiets. ’n Gemiddelde bamboesfietsraam weeg enigiets van 2,2 tot 2,8kg. Daar word gestreef om die rame se gewig te verminder na 2kg.”

Wells hoop om met sy deelname aan die Sani2C-ren meer mense van die omgewingsvriendelike fietse bewus te maak.

“Bamboes is van die plante wat die meeste suurstof vervaardig. Dit is ook ’n geharde plant wat baie vinnig groei en beslis volhoubaar benut kan word.”

Hoe sterk is die bamboesfietsrame?

“Ek dink vanweë die natuurlike buigsaamheid van bamboes sal die fietse nie sommer breek as jy neerploeg nie.

“Een van die redes waarom ek die Sani2C op ’n bamboesfiets gaan aandurf, is juis omdat ons die fiets onder uiterste omstandighede wil toets.

“Daarom gaan my fiets geen skokbrekers of ratte hê nie.”

Wells se deelname aan die toer kom so bietjie ook neer op ’n geval van afgeval, seergekry, opgeklim en weer gery.

In 2011 is Wells in die eerste skof deur ’n jaer gestamp. Dit het daartoe gelei dat hy beheer verloor en teen 60km/h in ’n rots vasgejaag het.

Hy het toe sy rug gebreek en sy hand is vergruis.

“Ek is nogal effens benoud om weer aan die Sani2C deel te neem,” bieg Wells.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom