Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Artikels / 50 jaar voor die swartbord

Hy was 50 jaar in die onderwys en kan nie een dag onthou dat hy gedink het genoeg is genoeg is.

Só vertel Louis Weitz (75) van Pretoria wat einde verlede maand afgetree het.

Weitz het 30 jaar lank aan skole soos die Hoërskool Brits, Hoërskool Kensington, Hoërskool C.R. Swart en die Pretoria Technical High School vakke soos houtwerk en tegniese tekene onderrig.

Die ander 20 jaar was hy by onderwyseropleiding aan verskeie onderwyskolleges betrokke.

Weitz sê hy was nie een dag jammer dat hy die beroep gevolg het nie en sy lewe het daaruit bestaan om kinders te help. “’n Mens is ’n onderwyser of jy is nie een nie.”

Volgens Weitz het kinders in die jare sestig en sewentig meer respek vir onderwysers gehad. “Ons het wonderlike verhoudings met hulle gehad en hulle op ’n positiewe manier getug.

“Onderwysers het daardie jare ook nog status gehad en jy het nooit enige probleem met die ouers gehad wat by jou werk wou inmeng nie.”

Weitz meen baie probleme in skole deesdae kan aan dwelms en selfone toegeskryf word.

Hy is ook nie oortuig dat standaarde nie verlaag het nie, soos wat die regering graag sê.

Weitz onthou dat hy nooit ’n enkele druipeling in sy klas gehad het nie en dat leerlinge en later sy studente op kollege van die mooiste houtwerk kon doen.

Hy meen die onderwysdepartement het ’n verkeerde rigting met tegniese onderrig ingeslaan waar leerlinge in die skole deesdae iets van alles moet leer en nie in ’n spesifieke rigting kan spesialiseer nie. In die ou dae het kandidate in tegniese skole reeds van st. 8 (nou gr. 10) af in ’n rigting gespesialiseer.

Weitz meen ook daar is deesdae vakke wat nie sinvol is nie en skoolverlaters nie toerus om daarna iets te kan doen nie.

Weitz het hom nie net as onderwyser bekwaam nie, maar is ook ’n opgeleide argeoloog.

Hy het jare gelede aanbiedinge gekry om in Italië en Griekeland as argeoloog te werk, maar het dit nie gedoen nie ter wille van sy kinders wat hy en sy vrou Afrikaanssprekend wou grootmaak.

Hy het ook op sportgebied uitgeblink en die destydse Noord-Transvaal Atletiek van 1955 tot 1963 verteenwoordig. Van 1970 tot 1975 was hy ook by Noord-Transvaalse krieket betrokke.

Met dié agtergrond het hy talle atlete en krieketspelers afgerig.

Weitz meen hy kon jare gelede aan die Olimpiese Spele deelgeneem het, was dit nie vir ’n enkelbesering nie.

Hy sê hoewel hy nooit spyt was oor sy onderwysloopbaan nie, wou hy aanvanklik ’n vlieënier word.

Maar dit was van die baan toe twee van sy maats verongeluk het en hy en die rugbylegende Mannetjies Roux, met wie hy bevriend is, in die sestigs boonop in ’n vliegongeluk was en ’n noodlanding by Swartkop-lugmagbasis moes doen.

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom