Hoewel Frieda Meyer van Sunnyside onlangs haar 100ste verjaardag gevier het, lyk sy vir haar vriende by die Harmoniehof-aftreeoord nie ’n dag ouer as 60 nie.
’n Trotse Meyer, wat steeds met net ’n kierie stap, het spoggerig in blou gelyk toe sy verlede week haar verjaardagkoek by dié ouetehuis gesny het. “Volgende jaar vier ons 101,” het sy gesê.
Die kersie op die koek was toe kinders van die Sun Sparrows-kleuterskool, ook van dié omgewing, spesiaal vir haar kom sing en dans het.
“Dit was werklik baie mooi.
“Ek moes keer om nie te huil nie,” het Meyer gesê.
Sy het haar mede-inwoners met ’n paar gevleuelde woorde toegespreek en die kleingoed bedank vir hul oulike aanbieding.
En aangesien ’n mens net een keer 100 jaar oud word, vier sy dié mylpaal sommer twee keer saam met haar vriende by die ouetehuis, asook op ’n groot familiebyeenkoms.
Maar is daar ’n resep om ’n volle eeu oud te word?
Vir Meyer is die antwoord eenvoudig nee.
“Dit is slegs deur die Here se genade dat ek vandag ’n eeu oud is,” het sy gesê.
Meyer, ’n gebore Vrystater, woon al 12 jaar in dié ouetehuis in die hartjie van Sunnyside.
Hoewel haar stokperdjies hoofsaaklik uit lees en hekel bestaan, het sy tot die ouderdom van 84 nog gereeld tennis gespeel.
Meyer en haar oorlede man, Ficki, het saam twee seuns, nege kleinkinders en drie agterkleinkinders.
)Op www.tshwanebeeld. com is daar ’n video van Meyer se verjaardagviering.