Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / Motoriste gaan só opdok vir parkering

Motoriste gaan dalk eersdaags R8 per uur vir parkeerplek in die middestad, Sunnyside, Brooklyn en Hatfield betaal.

Dit volg ná die Tshwane-metroraad onlangs aangekondig het dat ’n verskaffer aangestel gaan word om ’n nuwe handparkeermeterstelsel vir die munisipaliteit te bestuur.

Volgens Nomasonto Ndlovu, woordvoerder van die metroraad, sal die nuwe stelsel in Junie amptelik in werking tree.

“Die doel hiermee is om verkeer te reguleer en ’n behoefte aan straatparkeerplek te vul. ’n Voorgestelde tarief van R8 per uur sal teen Mei vanjaar aan die raad voorgelê word vir goedkeuring,” sê Ndlovu.

Sy voeg by dat dit slegs van toepassing is op openbare en nie private parkeerterreine nie.

Daar gaan van die diensverskaffer verwag word om huidige selfaangestelde parkeeraanwysers, ook bekend as lapswaaiers, as beamptes aan te stel op voorwaarde dat hulle nie misdaadrekords het nie.

Dié beamptes sal die geld by motoriste neem sodra hulle parkeer.

“Die tarief sal bepaal word na gelang van hoe lank die motoris dink hulle gaan parkeer,” sê sy.

“Die beampte sal dan ’n strokie aan die motoris uitreik wat aan die binnekant van die motoris se voorruit sigbaar moet wees.”

Volgens haar sal die strokie die datum, tyd en ander besonderhede van die motor en motoris aandui.

Sowel die motoris as die beampte sal ’n strokie kry.

Indien die motoris langer parkeer het as verwag, sal hulle gevra word om in te betaal.

Die diensverskaffer sal verantwoordelik wees om gereeld deur die dag alle kontant en dokumentasie by die verkeersbeamptes in te samel.

“Die diensverskaffer moet ten alle tye deur versekering gedek word en sal aanspreeklik gehou word vir enige verlore of gesteelde geld en dokumentasie. Die diensverskaffer moet ook alle geld in die metroraad se rekening inbetaal,” sê Ndlovu.

“Wetstoepassing sal deur die metropolisie behartig word,” voeg sy by.

Volgens rdl. Karen Meyer, die DA se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, is daar egter talle gapings in dié nuwe stelsel.

“Ons is bekommerd oor die tegniese aspekte. Ons wil ook nie hê motoriste moet geldelik te na gekom word nie,” sê Meyer.

“Met die ekonomiese situasie in dié stad kan ons as inwoners net vir so lank buitensporige pryse betaal,” voeg sy by.

Volgens Meyer het hulle egter nie ’n probleem met die bywet self nie en voel dit is standaard.

Volgens Ndlovu sal oortreders wat dié wette nie nakom nie vervolg word.

) Die publiek het tot 15 Februarie kans om die konsep-regulasie te bestudeer en bydraes te lewer.

Tshwane beplan om sy nuwe bywet teen Mei aan die raad voor te lê vir goedkeuring, waarna dit in die Staatskoerant gepubliseer sal word.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom