Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Sport / Ultraren dalk Buys se wenkans

Met die Olimpiese Spele wat vir eers iets van die verlede is, kan Philip Buys (Scott) ’n slag weer aan die langer bergfietsrenne deelneem.

Dié jaer van Waterkloof kan dalk al sommer Saterdag in Barberton vir ’n groot verrassing verantwoordelik wees deur die eerste ultraren van die MTN-bergfietsreeks te wen.

Buys het twee naweke gelede op die Cycle Fest in Pietermaritzburg bewys hy is goed op dreef toe hy die internasionale Burry Stander-gedenkveldren met groot gemak gewen het.

Indrukwekkend is die beste beskrywing van Buys se vertoning.

Hy het hom nie deur die gure, nat omstandighede laat afsit nie en van meet af voor gejaag. Met die aanvang van die tweede rondte was dit duidelik dat daar net een wenner kan wees.

Buys het agterna sy sege aan Burry Stander opgedra wat op 3Januarie tragies gesterf het toe ’n taxi hom in Shelly Beach raakgery het.

Stander was waarskynlik een van Suid-Afrika se beste fietsryers van alle tye. Teen die einde van verlede jaar het hy die tweede plek op die Internasionale Fietsry-vereniging se veldren-ranglys beklee.

Volgens Buys gaan Suid-Afrikaanse fietsry Stander beslis mis.

“Met sy aggressiewe benadering wanneer hy deelneem, het Burry ons almal gedwing om onsself daardie bietjie dieper in die ‘rooi’ te druk en dit het van ons beter fietsryers gemaak.

“Die afgelope drie jaar het ek so baie by Burry geleer. Die belangrikste is om niks aan die noodlot oor te laat nie. Die kleinste dingetjie kan op die ou einde ’n groot verskil maak.”

Saterdag se MTN-ren oor 120km word allerweë as een van die strafstes beskou.

Buys is nie een wat vooraf wilde voorspellings maak nie. Hy glo daaraan dat sy bene die praatwerk moet doen.

Op ’n goeie dag egter kan Buys vir enige jaer teen ’n steil klim wegjaag. Wat voorts in sy guns tel, is absolute vreesloosheid wanneer daar bergaf op erg tegniese roetes gejaag word.

Eintlik is dit die eerste keer in jare moeilik om te voorspel wie gaan wen.

Jacques Rossouw, verlede jaar se kampioen, het eers in Desember weer ’n kontrak gekry as beroepsjaer.

Kevin Evans, ’n voormalige kampioen, het in Oktober en Desember operasies ondergaan om ’n abses in sy maag te dreineer en kon eers weer in Januarie begin oefen.

Knox, driemalige kampioen, oordryf dalk as hy sê hy sal nie op sy beste wees nie.

So, as daar ooit ’n kans was vir Buys of enige ander jong jaer om sy stempel in dié reeks af te druk dan is dit Saterdag.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom