Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Artikels / Egpaar ná 60 jaar steeds dolverlief

’n Blinde afspraak in 1953.

Dít is wat gelei het tot die 60ste huweliksherdenking wat Basie (81) en Vicky (78) du Plessis van Danville in Pretoria-Wes onlangs gevier het.

Die ontmoetingsdag, net voor die Pretoria-skou sou plaasvind, kan Basie nog helder onthou, want iets baie spesifiek wat ’n man nie sommer vergeet nie het sy oog gevang.

“Daai figuur en mooi bene. Sjoe. Toe ek aan haar vat, het ek geweet ek vat aan ’n vrou,” sê Basie terwyl hy die kurwes van sy vrou se lyf met sy hande namaak.

Vir Vicky is dit Basie se besorgdheid en liefdevolle persoonlikheid wat haar hart nog al die jare laat klop.

“As ek net te hard asemhaal wil hy my al dokter toe vat,” lag sy.

Vicky sê sy en Basie is onafskeidbaar.

Hul resep vir dié mylpaal in hul huwelik is volgens Vicky respek, geloof, bystand en eerbied vir mekaar.

Sy voeg wél by dat trou nie perdekoop is nie en dat dit moeilike tye ook insluit.

“’n Mens moet by mekaar kan staan deur dik en dun. Moet nooit opgee nie,” sê sy.

Hulle hoop dat hul huwelik as inspirasie sal dien vir jongmense.

Hoewel daar deur die jare talle merkwaardige herinneringe is, bly hul seevakansies in Durban en Margate hul beste herinneringe.

“Ons het 20 jaar lank nooit ’n vakansie by die see misgeloop nie. Dit was altyd so lekker,” sê Basie.

Hulle het saam agt kinders grootgemaak en spog vandag ook met elf kleinkinders en agt agterkleinkinders.

Hulle het hul huweliksherdenking met ’n groot familie-braai gevier.

Vicky se seun Anton en sy eggenoot, Steven Marx, by wie die egpaar tans woon, het hulle ook gevat om by die Carousel-casino te gaan dobbel.

Dis nog altyd iets waarvoor Vicky lief is. Basie is nie juis daarvoor te vinde nie.

“As hy nie saam met my wil gaan nie, dreig ek om hom te los. Dan kom hy tog maar saam,” lag Vicky.

“Wie weet? Miskien is ek gelukkig en dan kan ek uiteindelik my Mercedes koop,” voeg sy by.

In die aande speel hulle graag saam kaart en bedags sit hulle op die stoep.

Hoewel albei deesdae sieklik is en aan verskillende kwale lei, sal hulle mekaar oppas sover as wat hulle kan.

“Sy’s eintlik my groot baby, en ek hare. Ons kyk maar altyd na mekaar,” sê Basie.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom