Tuisblad / Jy sal Pretoria soos hy nou lyk nie ken nie, Pa

Liewe Pa,

Ek voel skoon skuldig. Ek het so lank laas vir Pa ’n brief geskryf. Noudat jy so ver is, moet ek beslis ’n plan maak om meer van my te laat hoor.

En toe is 2012 verby sonder dat dit die einde van die wêreld beteken het. Ek het al baie gewonder oor die mense wat so belang stel in wat in die toekoms gaan gebeur. Ons kan tog niks daaraan verander nie. Dink Pa nie ook so nie?

Maar, Pa, wat ek wil vertel is die dinge wat die afgelope tyd in Pretoria gebeur het. Jy sal die plek nie ken nie.

Ons het mos deesdae ’n metroraad. Hulle het al die dele van groter Pretoria soos Mamelodi, Atteridgeville, die Winterveld, Akasia, Cullinan en wie weet wat nog alles in een stad saamgevoeg. Nou noem hulle ons ’n metropool.

Dit lyk nie vir my of die nuwe gedoente werk nie. Die Uniegbou staan nog waar Pa hom laas gesien het. Teen Meintjeskop. Dit is net nie meer Kerkstraat wat voor die gebou verby loop nie.

En Pretoria? Ag Pa, die mense dreig nou om die naam te verander na Tshwane. Jy sal nou beter weet as ek, maar hulle vertel my dat die Tshwane-ou voor Paul Kruger in Pretoria was. Hulle het selfs vir hom ’n standbeeld voor die stadsaal opgerig. Nogal met ’n veer langs die oor. Baie soos ’n Amerikaanse Rooi Indiaan. Pa weet mos.

Tshwane het destyds toe Jan van Riebeeck in die Kaap geland het, so gaan die storie, die boodskap gekry dat die wit man aan die kom was. Hy en sy mense het toe maar weggetrek. Glo ter wille van vrede.

Een van sy spioene het hom blykbaar gebel en vertel van die drie bootjies wat in Tafelbaai anker gegooi het. Ek is nie seker of daar in daardie dae al selfone was nie. Ek wil nou nie vir Pa jok nie, so ek bly liewer verder stil oor die saak.

Ons president is deesdae so ’n vet oompie. Hy het reeds vier of vyf vroue. Weet nie of Pa dit al gehoor het nie? Hy sê swart mense moenie lief wees vir honde nie. Wonder ek nou hoekom nie? Glo iets met kultuur en beskawing te doen. Ek moet sluit. Ek belowe om nie weer so lank te wag voor ek skryf nie.

Jou liefhebbende seun,

Pieter

) My pa is in 1997 oorlede.

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Woensdag 2013-06-19
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 12° - 16° icon
PTA 3° - 19° icon
JHB 2° - 18° icon
BLOEM -1° - 19° icon
DBN 10° - 24° icon
PE 10° - 21° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs