Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Sport / Nuus / TV-sterre raak laag en vuil

Om Suid-Afrika se akteurs te oorreed dit is lekker om baie te sweet, regtig swaar te kry en boonop erg vuil te raak wil gedoen wees.

Dit is presies wat Pieter Swart van Centurion reggekry het.

Hy is die organiseerder van die Warrior-hindernisreeks waarvan die eerste byeenkoms van 9 tot 10 Februarie in Midrand plaasvind.

Een van die hindernisse wat die deelnemers dan sal moet baasraak, is ’n moddergat wat 80m lank is, 15m breed en plek plek 1,5m diep is.

Wat dit groot pret gaan maak, is dat Stefan Ludik, beter bekend as dr. Gustav Kemp in die sepiereeks Binneland, nie net gaan deelneem nie, maar ook die Warrior-reeks se ambassadeur is.

Hy is nie die enigste sepie-akteur wat aanstaande maand in die modder gaan rondkruip en sal moet spook om bo-oor en onderdeur hindernisse te kruip nie.

Daar gaan glo ’n hele klomp sepiesterre in aksie wees, maar nie Swart of Ludik wil nou al die name van die ander akteurs bekend maak nie.

Hulle het net gesê dit gaan ’n groot sepiester-uitdaging wees.

Swart is ’n ywerige bergfietsryer en kan nou eenmaal nie die versoeking van ’n strawwe uitdaging weerstaan nie. Dit is waarom hy met die Warrior-reeks begin het.

“Ek sal dit nie ontken nie. Die Warrior-reeks gaan straf wees.

“Daar gaan van die deelnemers verwag word om onder meer oor brandende vure te spring, teen mure en ander hindernisse uit te klouter, met hindernisse oor watergate te kom en dan natuurlik deur modder te kruip.

“Ek het ook ’n paar ander lekker morsige verrassings vir die deelnemers.”

Volgens Swart sal deelnemers sukkel om op hul eie al die hindernisse baas te raak.

“By sekeres sal die deelnemers moet saamspan as hulle wil klaarmaak. Dit is deel van die pret.

“Wat hindernis-renne so opwindend maak, is dat dit waarskynlik een van die goedkoopste sporte is. Al wat jy nodig het, is ’n ou T-hemp, ’n paar ou tekkies en ’n oefenbroek en boonop is dit iets waaraan die hele familie kan deelneem.

“By elke byeenkoms is daar die Warrior Brats-ren oor 1km wat agt hindernisse insluit. Dit is meestal vir kinders.

“Ouer deelnemers kan kies of hulle aan die Warrior Rookie-ren oor 8km wil deelneem wat 15 hindernisse insluit of aan die Warrior Black Ops oor 20km waarin daar 30 hindernisse is.

“Die lang ren is regtig straf en sal die deelnemers se vaardighede tot die uiterste beproef, maar daardie gevoel as jy klaarmaak word nie sommer oortref nie.”

Die prysgeld vir die Warrior Ops-renne is R10000 vir die eerste man en eerste vroue-atleet.

Vir meer inligting oor die reeks gaan na die webwerf www.warrior.co.za.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom