Lehan Lötter, oudleerling van die Hoërskool Garsfontein in Pretoria-Oos, was nie net een van sy skool se akademiese uitblinkers nie, maar hy was ook deel van sy skool se eerste hokkiespan en het muurbal gespeel.
“Dis vir my ouers vreemd, want nie een van hulle is sportief nie.”
Lehan het agt onderskeidings vir Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, inligtingstegnologie, fisiese wetenskappe, rekeningkunde en wiskunde vraestel 3 gekry.
Ek werk hard, maar glo dis belangrik om ’n balans in jou lewe te hê.
Lehan se pa is dood toe hy in gr. 8 was en sy ma het twee juwelierswinkels saam met ’n vriendin. Albei sy ouers was egter voorheen rekenmeesters. Lötter is van plan om elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP) te studeer en sal in die koshuis Sonop tuisgaan.
“Ek is baie opgewonde, maar ook ’n bietjie bang,” het hy gesê.
Hy wil graag eendag geniet wat hy doen en doen waarin hy belang stel. Die heel belangrikste vir hom is egter om ’n verskil iewers in die wêreld te maak.