Hy hou daarvan om spies te gooi, maar ’n rugbesering het veroorsaak dat hy dit moes opgee.
Johan Kotzé van die Afrikaanse Hoër Seunskool het die besering aan die einde van gr.10 opgedoen toe hy besig was om die sport te beoefen.
“Van daar af was dit net afdraande,” het Johan gesê.
Maar hy het hoop dat hy eendag weer sal spiesgooi.
“Ek is besig met fisio en hoop my rug herstel.”
Hy het onderskeidings in Afrikaans, wiskunde, wiskunde vraestel 3, rekeningkunde, fisiese wetenskappe, lewensoriëntering en ingenieursgrafika en -ontwerp gekry.
“Ek beplan om meganiese ingenieurswese by Tuks te gaan studeer.”
In sy vrye tyd leer Johan homself kitaar speel.
“Dit is ook vir my baie lekker om naweke en vakansies motorfiets te ry. Ek oefen ook graag en speel met my honde.”
Elzabé, sy ma, is ’n eiendomsagent en sy pa, Ockert, ’n meganiese ingenieur.