Wie het gesê blokkies bou is kinderspeletjies?
Die Grey Matters Robotika-span van die Hoërskool Waterkloof is onlangs aangewys as die nasionale kampioene van die First Lego League-kompetisie.
Vanjaar se tema, Senior Oplossings, het vereis dat spanne robote uit Lego-blokkies moes bou en binne twee en ’n halwe minute voltooi.
Die robot moes ’n voorstelling wees van hoe senior burgers onafhanklik, betrokke en in kontak met die gemeenskap kan bly.
“Hulle moes ook ’n tegniese verslag lewer oor hul strategie, navorsing en die ontwerp van die robot,” sê Colleen Naudé, skakelbeampte by dié skool.
As deel van die volhoubaarheid van dié projek het die span self ’n jukskeibaan gebou asook ’n jukskeiklub in Elarduspark gestig.
Die span vertrek in April volgende jaar na Amerika waar hulle Suid-Afrika tydens die wêreldbyeenkoms van dié liga sal verteenwoordig.
“So word robotslimkoppe seniors se groot vriende,” sê Naudé.