Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Skool se ‘skatkis’ te wen

Handtekeningjagters sal waarskynlik na hul asem snak as hulle ’n Pretoriase skool se magdom getekende artikels sien.

Die Laerskool Totiusdal, wat homself “die klein skool met die groot hart” noem, het reeds meer as 160 artikels met oor die 600 handtekeninge wat alles September aanstaande jaar deur een persoon in ’n gelukkige trekking gewen kan word.

Dit is deel van die skool se viering van sy 60ste bestaansjaar.

Onder die bekendste handtekeninge tel dié van die rugbylegendes dr. Danie Craven en Frik du Preez en die krieketspeler Sachin Tendulkar.

Laasgenoemde se Mumbai Indians-hemp is deur sy span geteken toe hulle in Oktober hier was vir die T20-Kampioeneliga-toernooi.

In die storie agter die hemp speel selfs oudpres. Nelson Mandela ’n rol.

Rudi Geldenhuys, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê Daren Ganga, voormalige kaptein van die krieketspan van Trinidad en Tobago, het die hemp vir hulle bekom.

Ganga was as jongeling in 1998 deel van die Wes-Indiese span wat Suid-Afrika toe gekom het.

Mandela het hom in Januarie 1999 in sy hotelkamer gebel om hom geluk te wens met sy 20ste verjaardag.

Volgens Ganga het dit sy lewe verander en hy het hom begin beywer om jong mense te mentor.

Toe dié sportambassadeur van Trinidad en Tobago in Oktober in Suid-Afrika was, onder meer as kommentator vir die T20-Kampioeneliga, wou hy graag ’n pet van die 1998-toer aan Mandela oorhandig.

Dit was nie moontlik nie, maar die niewinsgewende organisasie Community Development Initiatives International (CDII), waarvan Geldenhuys en nog ’n ouer van die skool direkteure is, was betrokke by reëlings dat Ganga die Nelson Mandela-instituut besoek.

Uit dankbaarheid het Ganga gesorg dat hulle die Tendulkar-hemp en getekende minikrieketkolwe kry.

Die hemp is geteken deur onder andere Tendulkar self, Harbhajan Singh, Lasith Malinga en Kieron Pollard, en die kolf deur Singh, Ganga en MS Dhoni.

Ander getekende sporttruie in die skool se versameling is van AB de Villiers, die 2012-Stormers, die Brasiliaanse nasionale kampioenspan Palmeiras, en die Jamaikaanse netbalspan.

Dan is daar Dok Craven se handtekening op ’n klein stukkie papier.

Koos Fourie, onderwyser aan die skool, bewaar dit sedert 1976 in sy Bybel. Hy het dit by Craven gekry tydens die tweede toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland.

Geldenhuys sê sedert hy op RSG oor die skool se projek gepraat het, het mense ook ander interessante artikels geskenk.

Soos ’n Doc Craven-wyn van 1985 wat ’n goeie pasmaat vir Craven se handtekening is.

En Hennie Griesel van Naboomspruit het ’n stukkie getekende papier, met handtekeninge van Britse Leeus van 1962, geskenk nadat hy dit jare lank in sy Bybel bewaar het.

’n Oudleerling van die skool, Estelle Rautenbach, het twee stelle met handtekeninge van dieselfde Leeus-toer en die Wallis-span van 1964 geskenk.

Werner Kalp, skoolhoof, het ook sy kant gebring: Hy het Frik du Preez tydens ’n gholfdag vir sy handtekening op ’n pet gevra en Morné Steyn in ’n restaurant gevra om op ’n lapservet te teken.

Daar is verder onder meer getekende boeke en CD’s en bottels wyn waarop Afrikaanse sangers geteken het.

Kaartjies vir die trekking word by www.itickets.co.za teen R100 verkoop.

Met die opbrengs wil die skool sy gemeenskapsprojek genaamd Legacy2Generations ’n werklikheid maak.

Dit behels die bou van ’n sentrum vir sport, akademie en kultuur vir skole in die omgewing.

Geldenhuys sê mense wat getekende artikels wil skenk, kan hom kontak by rpgeldenhuys@africanbank.co.za of 00823713592.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom