Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Nuus / ‘Sprokiesboom’ merkwaardig genoeg vir dié lys

Eendag was daar ’n gat en in dié gat was daar ’n boom.

’n Reuse Ficus Macrophylla, oftewel die “sprokiesboom”.

Danksy Leonard van Staden (37) het dié reuse, eeu-oue boom wat in die Nasionale Dieretuin in Pretoria pronk, onlangs kampioenstatus behaal toe dit amptelik as een van Suid-Afrika se oudste en grootste bome gelys is.

Dié lys het in 2004 ontstaan en is deur die departement van waterwese en bosbou begin.

Al die bome op dié lys staan bekend as kampioenbome en word volgens wet beskerm en bewaar. Hulle mag slegs afgekap word met skriftelike toestemming van dié departement.

Enige boom, inheems of uitheems, kan vir die lys benoem word op grond van sy buitengewone grootte (hoogte of omtrek), ouderdom en kulturele of historiese waarde.

Hoewel Van Staden nog altyd fanaties oor die natuur is, het hy dié boom vir die eerste keer opgemerk toe hy en sy vrou, Anja (36), en hul twee kinders, Owen (3) en kleinsus Jade (1), verlede jaar op ’n uitstappie in die dieretuin was.

“Ek het met verbasing onder dié reuseboom gestaan en is dadelik gefassineer. Dit lyk of dit uit ’n sprokie kom,” sê Van Staden.

“Dit laat my hande jeuk om ’n boomhuis te bou, groot genoeg vir 50 mense,” lag hy.

Volgens Van Staden kan hy nie glo dié boom is nog nooit voorheen werklik raak gesien nie.

“Ek weet die dieretuin is eintlik vir die besigting van diere, maar daar is ook ’n merkwaardige versameling van bome,” vertel hy.

Van Staden het dadelik aan die werk gespring om navorsing oor dié boom te doen en tot die gevolgtrekking gekom dat die boom iewers in die 1800’s geplant is.

Wie die saadjie geplant het, is egter onbekend.

“Toe die dieretuin in 1899 ontwikkel is, was die boom reeds daar,” sê Van Staden.

Volgens hom het die grond in die vroeë 1800’s aan Stephanus Schoeman behoort en bekend gestaan as Klein Schoeman’s Dal.

Daarna was die grond onder die eienaarskap van Johannes Francois Cilliers en is dit herdoop na Rus in Urbe. Cilliers was die pa van die digter Jan F.E. Cilliers.

“Ek hou daarvan om myself te verbeel dat Cilliers onder dié boom van sy gedigte geskryf het,” sê Van Staden.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom