Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Artikels / Groentetonnels vir Eersterust

Grysaards van die Eersterust-tehuis vir bejaardes in Pretoria gaan binnekort groente in hul eie agterplaas kan kweek.

Die Pretoria Sunrise-Rotariërs het Saterdag die laaste afwerkings van twee groentetonnels, wat saam 10m lank is, by dié tehuis in Eersterust, oos van Pretoria, voltooi.

Dié tonnels het sowat R11000 gekos.

“Nie net sal die kweek van groente hiér ’n stokperdjie vir hulle kan wees nie, maar sal dit aan hulle kos gee, asook ’n moontlike inkomste,” sê Perry Garlick, president van dié klub wat grotendeels gemeenskapsprojekte behartig.

Volgens Garlick was die belangrikste deel van dié projek dat dit op lang termyn volhoubaar is en iets vir die tehuis sal beteken.

Garlick het gesê die groente wat die inwoners nie gebruik nie, kan hulle verkoop.

Volgens Garlick sou dit vroeër vanjaar reeds klaar gewees het maar die eerste verskaffer het bankrot gespeel.

“Dit was ’n groot gesukkel om ’n nuwe verskaffer te kry wie se pryse binne ons begroting geval het,” sê Garlick.

“Uiteindelik kon ons gelukkig alle benodigdhede soos grond, kompos, sade en besproeiingstoerusting binne ons begroting aankoop.”

Dié tehuis, wat deel van die Eersterust-welsynsorganisasie vir bejaardes is, huisves 54 bejaardes, van wie sommige voltydse versorging nodig het.

“Ander wat nog fluks is, sal lekker kan tuinmaak as hulle wil,” sê Garlick.

Die klub is al jare lank by die tehuis betrokke en doen elke jaar ’n projek wat die verskaffing van klere, rolstoele, boeke en kos behels.

“Ons is baie opgewonde en ook baie dankbaar vir die nuwe groentetuin,” sê dr. Willie Hoods, voorsitter van die tehuis.

Benewens die groentetonnels, is die tehuis ook besig om uit te brei sodat hulle in die toekoms meer inwoners kan huisves, sê Hoods.

Monica Mokwebane (87), ’n inwoner van dié tehuis, sien self nie kans vir tuinmaak nie, maar is baie bly dat hulle kos vanuit hul eie tuin gaan kry.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom