Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Nuus / Liggies skyn vir kinderhuis

50 000 voete.

Dit is die getal besoekers wat die Jakaranda-kinderhuis in East Lynn vanjaar na hul jaarlikse Kersliggiefees wil lok.

Dit is die derde agtereenvolgende jaar dat die Kersliggiefees vir die kinderhuis se 250 kinders tussen die ouderdom van 18 maande en 18 jaar gehou word.

Elzane van der Merwe van die kinderhuis se bemarkingspan sê hoewel die Kersliggiefees ’n geldinsamelingsprojek is, word dit hoofsaaklik gedoen om die kinders te herinner aan die ware rede van Kersfees.

In 2010 het hulle 7000 besoekers gelok. Verlede jaar het 33000 mense na die Kersliggies kom kyk, wat teen R10 per persoon van 19:00 tot 22:00 by die kinderhuis se 22 huise te sien is.

Volgens Van der Merwe het die kinderhuis probeer om vanjaar se fees ekstra spesiaal te maak.

Op 21 Desember bied hulle ’n gospel-musiekfees aan van die “stemme van hoop” met die sangers Ronel Erasmus, Freda Francis, Louis Brittz en Pierre Vigoureux.

“Die kinderhuis probeer om met die Kersliggiefees ook uit te reik na die gemeenskap om ons op wie ons steun. Daar is stalletjies van gemeentelede van kerke in die omgewing waar worsbroodjies, pannekoek en kerrie en rys gekoop kan word.

“Vanjaar is daar ook vir die eerste keer ’n teetuin by die Kersliggiefees,” vertel Van der Merwe.

Volgens haar beloop elke kind se basiese uitgawes soos kos en toiletware die kinderhuis R74 per kind per dag of R2070 per kind per maand. Verdere uitgawes kos die kinderhuis R144 per kind per dag of R1008 per kind per maand.

“13 kinders woon in ’n huis saam met pleegsorgouers en ’n assistent. Elkeen moet ’n warm bad of stort kry. Die kinderhuis kry nie korting op elektrisiteitstariewe nie,” het Van der Merwe as voorbeeld van hul uitgawes verduidelik.

Vir meer inligting, bel die kinderhuis by 0012 8004700 of stuur ’n e-pos na info@jacarandachildren.co.za.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom