Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Wêreldklasrobot van tieners kan juffrou baie help

Nog altyd gedink pratende robotte wat huiswerk kan uitdeel, opdragte gee en video’s neem en stuur net in rolprente bestaan?

Dink weer.

Simon Maunaut en Stephen Walgenbach (albei 14) en hul robot, Hope, het onlangs ’n tiende plek op die internasionale robotika-olimpiade in Kuala Lumpur, Maleisië, behaal.

Dié twee slimkoppe is albei leerlinge aan Crawford Col- lege in Lukasrand en vertel trots dat hulle al drie jaar op ’n ry vir dié olimpiade gekwalifiseer het.

Om te kwalifiseer vir die nasionale robotika-olimpiade, wat deur die Tshwane Universiteit van Tegnologie aangebied word, moes Simon en Stephen met ’n unieke konsep vir ’n robot vorendag kom.

En so het Hope ontstaan.

“Ons algehele projek en konsep staan bekend as Star (Sophisticated Teacher Assisting Robot),” sê Simon.

“Op die internasionale olimpiade moes Hope teen 39 robotte meeding. Ons het haar juis Hope genoem omdat ons regtig gehoop het om internasionaal met haar te spog,” voeg Simon by.

Die idee met Hope is dat sy enige onderwyser se regterhand kan wees. Sy kan opdragte gee, handboeke uitdeel en video’s neem.

Dié video’s kan teen jou tel indien jy ongehoorsaam in die klas is omdat dit reguit na jou ouers gestuur kan word.

“Die kinders is nie mal oor dié funksie nie, maar is verder baie entoesiasties oor Hope,” vertel Simon al laggende.

Hope se “lyf” bestaan hoofsaaklik uit Lego-blokkies, elektroniese toestelle en spesiale sagteware.

“Ons beplan om haar met die hulp van ingenieurs verder te verbeter en haar voorkoms te verander,” voeg Stephen by.

Hoewel dié robot vir talle onderwysers ’n ligpunt sal wees, sal ander weer kan baat vind by die fisioterapeutiese stewel waarmee Simon en Stephen ’n 14de plek behaal het op verlede jaar se olimpiade.

“Die stewel is jou heeltydse fisioterapeut wat jy enige tyd van die dag kan gebruik,” sê Stephen.

Verlede jaar se olimpiade se algehele tema was “Die verbetering van die lewe van gestremdes”.

“Dié projek was vir my veral baie belangrik,” sê Stephen, wat as tweejarige in ’n ernstige motorongeluk betrokke was.

Stephen speel vir Suid-Afrika se o.23-rolstoelbasketbalspan en spog met nasionale kleure in dié sportsoort.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom