Tuisblad / Artikels / Nuus / Dogter wil kunstenaar se werk laat herleef

In 1938 het J.H. Rabe, ’n pionier op die gebied van die strokiesprent en skepper van karakters soos Jan Rap, ure gesit en illustrasies maak vir die boek Die Groot Trek in beeld.

Hy sou baie opgewonde gewees het oor volgende jaar se 175ste jaar van die Groot Trek, het Rabe se dogter, Helen Snyman van Pretoria-Noord, gesê.

Die Groot Trek in beeld is deur L. van Zyl geskryf en in skole gebruik. Dit was die eerste keer dat leerlinge die geskiedenis in Afrikaans kon lees én sien.

Snyman en haar man, Chris, het tientalle sketse en illustrasies opgediep wat haar oorlede pa oor onder meer die Groot Trek gemaak het. Hulle spog ook met 80 oorspronklike skilderye van dié tydgenoot van Erich Mayer en W.H. Coetzer.

Hulle hoop van sy werk kan gebruik word met die herdenking van die Groot Trek volgende jaar.

Rabe is in 1907 in Lindley in die Vrystaat gebore en is in 1997 oorlede. Ná sy skoolopleiding aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg het hy by die destydse spoorweë gaan werk as klerk en ontwerper in die publisiteitsafdeling.

Hy het in 1938 voltyds as kunstenaar begin werk en bladomslae en illustrasies vir Die Transvaler, Die Huisgenoot, Die Jongspan, Ons Vaderland en Die Volksblad gemaak. Sy eerste ritsgrap, Jan Rap, het in 1938 in Die Brandwag verskyn. Dit was ’n reeks oor die ervaringe van ’n gevatte, besnorde mannetjie wat bang is vir sy vrou, maar tussen sy vriende heldhaftig is.

Uit sy pen het ook gekom Daan Donsies en Hendrik Horrelpoot, die avonture van twee grapjasboere in die Bosveld. Hy het ook illustrasies van Klein Duimpie gedoen.

Snyman het gesê haar pa het nooit roem of aansien gesoek nie, wat waarskynlik die rede is waarom hy eintlik as ’n onbekende kunstenaar gesterf het.

Die Snymans wil graag hê Rabe se nalatenskap moet op een of ander manier bewaar word.

“My pa was ’n baie stil, teruggetrokke man, maar altyd met iets doenig. As mense by ons kom kuier het, het hy sommer stil-stil verdwyn en dan sou jy hom voor sy esel kry.”

Sy onthou dat haar pa ook baie rusteloos was en dat hulle gereeld getrek het. Om dié rede is sy skilderwerk nie net tot ’n bepaalde streek beperk nie.

Snyman sê Rabe se Afrikanerskap en die natuur het ’n baie groot rol in sy werk gespeel.

Hy het ook ’n groot liefde vir die Afrikaanse taal gehad en graag Afrikaanse gesegdes en idiome op humoristiese en opvoedkundige wyses ingespan.

Snyman onthou hoe verskriklik dit vir Rabe was toe hy heeltemal blind geword het in sy tagtigerjare.

“Ons het hom en my ma toe Pretoria toe laat kom waar hy ’n lensoperasie gekry het. Toe was daar weer geen keer aan hom nie.”

 

  KOMMENTAAR 
 
WEER
Weer vir Vrydag 2013-05-24
Kies jou area vir sewedaagse voorspelling
CPT 9° - 20° icon
PTA 8° - 25° icon
JHB 6° - 23° icon
BLOEM 2° - 25° icon
DBN 15° - 24° icon
PE 13° - 22° icon
Besoek AfricaWeather.com vir nog weer voorspellings.
 
Wat gebeur
Kategorie-soektog
SKOLE
Vind plaaslike skole
Groepe / Klubs
Vind plaaslike Groepe / Klubs