Woensdag 23 April 2014
Tuisblad / Nuus / Berugte kruising eis nog lewens

Altesame 33 mense was die afgelope drie jaar in ongelukke betrokke by die berugte doodskruising tussen Solomon Mahlangurylaan (voorheen Hans Strijdomrylaan) en Garstfonteinweg in die ooste van Pretoria.

Volgens statistieke van die Tshwane-metropolisie is drie mense hier dood en talle het ernstige en ligte beserings opgedoen in ongelukke net in die afgelope drie jaar.

Die laaste slagoffer is twee weke gelede in ’n botsing met ’n vragmotor by dié kruising dood.

Volgens Nomasontu Ndlovu, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, het hulle in 2006 ’n verkeersveiligheidsondersoek rakende dié kruising ingestel in ’n poging om dit te beveilig nadat ses mense in daardie jaar hul lewens in ongelukke hier verloor het.

“Ná die ondersoekverslag bekend gemaak is, is daar verskeie verbeterings by dié kruising aangebring,” sê Ndlovu.

“Daar is duideliker verkeersligte op hoër pale opgerig sodat dit reeds van ver af gesien kan word. Daar is ook bykomende verkeerstekens en spoedkameras opgerig.”

Volgens rdl. Nick Pascoe van die DA is dit egter nie voldoende nie.

“Hoekom word daar met dié situasie gesloer, terwyl dit baie ernstig is?” wil hy weet.

“Intussen rou talle families en vriende oor die dood van hul geliefdes.”

Pascoe sê Tshwane moet minder op die naamsveranderingsproses fokus en hul aandag op die behoeftes van die inwoners vestig.

Hy bevraagteken ook die werking van die spoedkameras by die kruising.

“Ons versoek ’n sandput vir wanneer vragmotors se remme onklaar raak, nog ’n spoedkamera 500 m verder as die huidige een en ’n groot waarskuwingsbord met ’n flitsende geel lig ongeveer 100 m ná die kruising tussen Solomon Mahlangurylaan en January Masilelarylaan (voorheen Louis Botharylaan).

“Laastens versoek ons dat die kruising in so ’n mate opgeknap word dat motoriste plek het om uit te swaai indien hulle ’n gevaarlike situasie vroegtydig identifiseer,” sê Pascoe.

Volgens Ndlovu is die Tshwane-metroraad tans besig om die verkeersveiligheidsondersoek wat in 2006 gedoen is, te verbeter.

“Ons hoop om binnekort nog maniere te vind om dié kruising veiliger te maak,” sê sy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom