Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Sport / Nuus / Klub ná 110 jaar nog hups

Ná die afloop van die Anglo-Boereoorlog in 1902 het ’n groep jong manne hul gewere opsy geskuif en hul rugbytokse nader getrek.

Só is die Harlequins-rugbyklub, toe bekend as die Civil Service-rugbyklub, 110 jaar gelede gestig.

Met hul wit rugbytruie en die letters C.S.F.C. op hul rûe geskryf het die spelers hul debuut gemaak.

Volgens Johan Scheepers, huidige voorsitter van dié klub, is die naam aan die begin van 1903 verander nadat ’n versoek aan die Londense Harlequins gerig is om ’n affiliasie met hulle te vorm.

Kort daarna het J.E.C. Partridge, ook bekend as Bird, die klub se eerste Springbok-rugbyspeler geword.

Die “Quins” of “Lappies-truie”, soos hulle ook bekend staan, het vinnig tot ’n sterk klub gegroei en het deur die jare meer as 40 Springbok-rugbyspelers opgelewer.

Groot name soos Ray Mordt, Johan Heunis, Naas Botha, Pierre Edwards en Uli Schmidt het vir dié klub uitgedraf.

Kitch Christie, wat die Springbokke na die Wêreldbeker in 1995 gelei het, was ook ’n afrigter by dié rugbyklub.

Om hul 110de bestaansjaar te vier, het die oudste klub in Pretoria nou ook hul restaurant en kroeë opgeknap.

Volgens Scheepers het die klub ook onlangs sy nuwe afrigters aangekondig.

“Rassie Erasmus, Bennie Burger, Quinten Bye en Renier Vermaak is reeds besig met voorbereiding vir die Carlton-reeks wat vroeg in 2013 afskop.

“Dit was tyd vir nuwe bloed en ons is baie positief oor die nuwe afrigters en rugbyseioen wat voorlê,” sê Scheepers.

“Heelwat nuwe spelers het reeds by die oefeninge aangemeld,” voeg hy by.

Oud-spelers wat vandag al grysaards is, is ook steeds by die klub betrokke en kom gereeld bymekaar vir middagete by die klub se restaurant, The Harlequin.

Volgens Scheepers is dit belangrik vir hulle om alle oud-lede betrokke te hou by die klub.

  •  Harlequins nooi alle spelers, oud en jonk, om elke Maandag en Woensdag om 18:00 by die velde in Totiusstraat in Groenkloof aan te meld vir Quins se someroefenprogram. Vir nog inligting kontak Johan Scheepers by 082 372 9214 of stuur e-pos na harlequinrugbyclub@telkomsa.net.
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom