Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Nuus / Knap polisieman stap ekstra myl om sy werk te doen

’n Egpaar van die Joos Bekker-karavaanpark in Pretoria besing die polisie se lof nadat ’n adjudant-offisier hul gesteelde goedere teruggekry het ’n uur nadat dit gesteel is.

Steve Weber (63) en sy vrou, Janette (60) woon al ’n maand in die karavaanpark en daar is Maandagoggend om 10:00 by die houthuisie waarin hulle bly, ingebreek.

Weber het gesê hulle het ’n venster op ’n skrefie oopgelos, want dit word baie warm in die houthuis.

Hy en sy vrou het ’n draai gaan stap en toe hulle terugkom was die huis deurmekaar en sy skootrekenaar, selfoon, en twee sakke met onder meer die registrasievorms vir sy vakmanskap-kursus was weg.

Hulle het die Wonderboompoort-polisiekantoor gekontak en ao. Daniel (JD) Bruwer het op die toneel opgedaag.

Weber het gesê Bruwer het hom en sy vrou se verklarings geneem en toe verdwyn.

“Ek (Weber) het eers gedink hy (Bruwer) het net ons verklarings geneem en weer gery, maar toe sien ek die polisie-trokkie staan nog hier.

“Ek het gesien hy (Bruwer) het later by die draad van die karavaanpark geloop en soek.

“Ek het hom sien aankom met die tas waarin my laptop is.

“Hy het dit in ’n bos aan die anderkant van die draad gekry.

“Ek kan nie verduidelik wat se verligting dit was toe ek daai tas gesien het nie,” het Weber gesê.

Bruwer het Weber se tas met sy registrasievorms ook in dié bosse gekry.

Weber se vrou het die ander sak in die vroue-toilette in ’n asblik gevind.

Ao. Wanda Olivier, polisiewoordvoerder, het gesê Bruwer is al langer as 22 jaar in die polisie en het hom beskryf as persoon wat omgee vir ander.

“Bruwer is altyd vriendelik, pligsgetrou en sal altyd daai ekstra myl stap om sy werk te doen,” het Olivier gesê.

Niemand is vir die diefstal in hegtenis geneem nie.

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom