Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Artikels / Karla se geliefdes en geraamtes in Jakarandastad

Karla du Plessis is gebore en getoeë in die Jakarandastad en is trots om te sê dis die tuiste van haar herinneringe, geliefdes en geraamtes.

Waar in Pretoria woon jy?

Wapadrand in Pretoria-Oos.

Wat maak Pretoria vir jou spesiaal?

Dis die plek waar ek gebore is, skoolgegaan en grootgeword het. My vriende is hier, my familie en my kinderherinneringe. Die geraamtes in my kas is ook in Pretoria.

Hoe lank is jy al in die vermaakbedryf?

Vanaf 1996 trek maar vier jaar af vir die afgelope vier jaar se afwesigheid. So dis 12 jaar.

Wat geniet jy die meeste van wat jy doen?

Ek geniet amper alles ewe veel. Vir 12 jaar was KKNK die hoogtepunt van my jaar, maar toe gebeur Skouspel in 1994, en nuwe feeste ontkiem oral. Die opneem van elke album was baie opwindend, maar om ’n liedjie te skep bly bo aan my lys.

Is jy besig met enige projekte in Pretoria?

Projek Kindersgrootmaak. Maar volgende jaar het ek my oggende oop as my jongste seuntjie ook kleuterskool toe gaan.

Hopelik kan ek dan my loopbaan hervat, weer begin skryf en beplan aan daardie langverwagte CD!

Vertel ons meer van jou gesin?

Ek is getroud met Jacques Reyneke, ’n eiendomsontwikkelaar.

Ons huweliksbootjie is ’n katspoeg weg van die sewe jaar mylpaal. Op 16 Desember sal die kurkproppie skiet.

Paulette Reyneke (nou ook bestuurder van die Atterbury-teater) was my bestuurder voor sy ook my skoonma geword het. Ek moes iets reg gedoen het, want sy is steeds my bestuurder (en skoonma!)

Ons het ’n dogtertjie, Katryn (4 jaar) en ’n seuntjie, Koos du Plessis Reyneke (Kobus, 3 jaar).

Wie is jou gunstelingmusikante?

Die Afrikaanse sangers en musikante wat nie op Roem se rug ry nie. En almal wat werklik talent het.

Wat is jou gunstelingresep?

Sjoe, ek kook graag, maar as ek self kos maak probeer ek dit eenvoudig hou.

Om te eet ... ek en ’n slaai is onafskeidbaar en sushi en ’n braaibroodjie en Parmaham-pizza met baie roketblare en baie rissies!

As jy jouself in een word kan opsom, wat sal dit wees?

Kompleks-eenvoudig.

Watter stokperdjies beoefen jy graag?

Voor die ooievaar op my dak kom nesmaak het, was ek gek daaroor om video’s te redigeer en ek en my man was verslaaf aan Playstation-speletjies. Liedjies skryf was natuurlik nog altyd ’n stokperdjie, nooit ’n werk nie.

As jy Pretoria in een word kon beskryf, wat sou dit wees?

Hartlik.

Wat is jou raad aan voornemende kunstenaars?

Gaan doen EERS ’n kursus in bemarking, daarna kan jy musiek studeer (as daar nog geld oor is).

Wat is die grootste uitdagings van jou beroep?

Om ’n treffer te skryf sonder om my siel te verkoop.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom