Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Artikels / Lekker verjaar, oom Paul!

Kerkstraat 60, Pretoria.

Dít was die woonadres van die laaste president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR): Stephanus Johannes Paulus Kruger.

Hy het daar saam met sy vrou, Gezina, en hul jongste seun, Tjaart, gewoon van 1884 tot 1900 toe hy in ballingskap Europa toe vertrek het.

Nou, 112 jaar later, vier ons nie net oom Paul se verjaardag nie, maar ook die heropening van die Ditsong Krugermuseum ná sewe en ’n half maande se uitgebreide instandhoudingswerk aan die buitekant van dié huis.

Volgens Makgolo Makgolo, hoof- uitvoerende direkteur van die Ditsong Museums van Suid-Afrika, is die opknapping van die Krugerhuismuseum ’n aaneenlopende proses en word dit in verskillende fases gedoen.

“Die buitegeboue aan die agterkant van die huis word nou geverf. Die volgende fase sal navorsing en die opknapping van die interieur van die huis wees.

“Dit sluit in die muurskilderye, houtwerk, muurpapier, plafonne en historiese meubels,” sê hy.

Die opvallendste verandering aan dié ou woning is die kleur en afronding van die ornamentasie aan die buitekant van die gebou.

“Die huis, wat voorheen wit was en ook in die literatuur as ’n whitewashed cottage bekend staan, het nou die oorspronklike kleur soos dit tydens ’n kort periode voor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) gehad het,” sê Makgolo.

Die sandsteen-voetstukke waarop die hoofverandakolomme rus en waarop die historiese twee leeufigure (’n geskenk van Barney Barnato aan Kruger op dié se 71ste verjaardag in 1896) rus, is opgeknap en met sandsteen versterk.

“Tydens die struktuurondersoek is vasgestel die oorspronklike voetstukke was van sandsteen. Die sandsteen het deur die jare verbrokkel en stuk-stuk afgebreek,” sê Makgolo.

“Aangesien sement meer onstabiel as sandsteen is, het dit ook deur die jare gebars en later verbrokkel.”

Volgens Makgolo het baie van Kruger se kleinkinders ook in dié huis gewoon of die woning gereeld besoek. Kruger het glo gereeld soggens ’n koppie koffie op die voorstoep geniet. Verbygangers was glo meer as welkom om ’n geselsie met die president aan te knoop.

) Die museum is van Maandag tot Vrydag van 08:30 tot 16:30 oop en Sondae van 09:00 tot 16:30.

Vir meer inligting skakel 00120000010 of stuur e-pos na krugerm@ditsong.org.za.

 

 

 

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom