Maandag 21 April 2014
Tuisblad / Nuus / Dinokeng besoeke nie meer verniet

Besoekers aan die Dinokeng-natuurreservaat in die Cullinan-omgewing sal van 1 November toegangsgeld moet betaal.

Die eerste uur sal gratis wees en daarna kos dit R25 per volwasse en R15 per kind en dié kaartjie is vir sewe dae geldig.

Fanie Smit, ’n direkteur van die Dinokeng-bestuursvereniging wat onder meer verantwoordelik vir toegangsbeheer by die park is, het gesê soos by enige wildtuin moet daar ’n bewaringstarief gehef word. Dié geld sal vir instandhoudingswerk in die park gebruik word.

Die betaalstelsel wat by Dinokeng gebruik gaan word, is uniek in Suid-Afrika, het Smit gesê.

“Daar gaan nie enige kassiere by die hekke wees waar mense betaal nie. Dit maak die risiko vir misdaad minder.

“Mense betaal by die plekke wat hulle besoek, of as hulle by vriende of familie kuier kan dié mense dit op die stelsel aanteken en die kuiermense kan die park gratis verlaat,” het Smit gesê.

Dinokeng het vyf hekke met valhekke en by elkeen is daar ’n kaartmasjien. Nou is daar nog geen toegangsbeheer en mense kan na willekeur deur die hekke ry.

Van 1 November sal heeltydse inwoners van Dinokeng soos grondeienaars of ander wat op plase of by verblyfplekke woon, die valbome met ’n magnetiese identiteitskaart kan oopmaak.

Besoekers moet ’n kaartjie uit die kaartmasjien neem. Dié kaartjie het ’n strepieskode met die datum, tyd en die hek se naam waar die persoon ingekom het. As besoekers die reservaat binne die eerste uur verlaat, hoef hulle niks te betaal nie.

Dit is gemik op mense wat aflewerings in die park doen, mense wat die provinsiale pad gebruik om hul bestemming te bereik of mense wat net deur die reservaat wil ry om na wild te kyk.

Mense wat langer as ’n uur in die park vertoef, moet R25 per volwassene en R15 per kind betaal en dit is dan sewe dae geldig.

As mense langer as sewe dae bly, moet hulle weer dieselfde tarief betaal.

Volgens Smit sal daar verskeie betaalpunte in die reservaat wees. Enigiemand wat ’n rekenaar het en wat die programmatuur by die Dinokeng-bestuursvereniging gekry het, kan as ’n betaalpunt optree.

Die plekke wat ook betaalpunte is, sal die geld aan Dinokeng oorbetaal.

Die park het onlangs, met die toevoeging van ’n trop buffels, die eerste park in Gauteng geword waar die Groot Vyf vry kan rondloop.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom