Die sanger Dozi hou Saterdag ’n konsert vir Pippie Kruger op sy plaas naby Hartebeespoortdam.
Dozi gaan self optree en verskeie sangers waaronder Ray Dylan en Dewald Dippenaar sal ook op die verhoog te sien wees.
Die koste beloop R100 p.p. en kinders onder 12 se toegang is gratis. Die toegangsgeld en al die inkomste van die onderskeie kompetisies wat op die dag gehou word gaan alles vir Pippie se behandeling.
Pippie en haar gesin sal self ook daar wees.
Die mode-ontwerper Dennis Lloyd het spesiaal ’n rokkie vir Pippie ontwerp wat sy Saterdagoggend sal kry.
By navraag het Pippie se ma, Anice Kruger, gesê sy het nog glad nie die rok onder oë gehad nie omdat Lloyd dit as ’n verrassing hou.
Behalwe vir Anice en haar man, Erwin Kruger sal Pippie se plastiese chirurg, dr. Ridwan Mia, en baie van haar terapeute ook die konsert bywoon.
“Ons sal daar onder ’n tent wees en die mense kan gerus kom hello sê,” het Anice gesê.
- Vir meer inligting of om kaartjies te koop skakel gerus 082 8243 725.