Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Artikels / Pretoria se ‘Boere-pop’ tuis in dié stad

Die kabaretkunstenaar en aktrise Alexa Strachan beskryf haarself as ’n “Boere-pop” in murg en been voel tuis in die Jakarandastad.

Waar in Pretoria woon jy?

Ek bly in Clubview strategies geplaas tussen die verskillende skole waarin my kinders is sodat hulle heen-en-weer kan fietsry.

Wat maak Pretoria vir jou spesiaal?

’n Mens moenie veralgemeen nie, maar: Ek is ’n Boere-pop in murg en been. Daarom voel ek tuis in Pretoria, dis immers die grootste Afrikaanse stad in die wêreld. Eintlik mos maar net ’n hengse groot plattelandse dorp. Dis my mense hierdie wanneer die kulturele snobiste van die Kaap en die identiteitlose wêreldburgers van Egoli brag oor hulle lêplekkies, verlang ek na die tannies in die Pretoriase winkelsentrums. Van die eerlike eenvoud van die Moot na die soms hartseer mode-sin van die Noorde of die Suide, na die nouveau riche van die Ooste. Dit bly my mense, en niks vervreem my hier nie. Hier is ’n leef-en-laat-leef gees wat selfs vir my aanvaar.

Hoe lank is jy al in die vermaakbedryf?

Professioneel so min of meer sedert 1997, maar Mother said I was a dancer before I could walk, (nie dat ek kan dans nie, maar jy weet wat ek bedoel).

Wat geniet jy die meeste van wat jy doen?

Verhoogwerk. As ek ’n lewe uit kabaret/teater kon maak, sou ek niks anders gedoen het nie. Dis die eerlikste en mees direkte vorm. Dis telkens net jy en daai gehoor, maak nie saak hoe baie hulle is nie en maak nie saak hoeveel optredes jy nou al gehad het nie.

Is jy besig met enige projekte in Pretoria?

Alle projekte van my maak maar een of ander tyd ’n draai by ons teaters. Die eerste daarvan is Oskar en die pienk tannie, wat volgende maand by die Atterbury-teater te sien is.

Hoe lyk jou gesin?

Ek is getroud met Pieter Lombaard. Die ander liefdes van my lewe is Lorentz (19), Xander (16), Christoff (8), en Tana (3 maande).

Wie is jou gunsteling-musikante?

O genade, ek het baie, in verskeie genres: Nick Cave, Beethoven, Piet Botha, Anne Sophie van Otter, Bruce Springsteen, Valiant Swart, Eddie Vedder, Sinead O’Connor, Herman van Veen, Herman van den Berg, Peter Gabriel, Laurinda Hofmeyr...

Wat is jou gunsteling-resep?

Ek en Pieter maak graag kos. Die kinders en gaste moet ook maar teen wil en dank inspring, maar ons het nie juis resepte nie, dinge gebeur so half organies, op instink en proe-proe. Ons vriende eet graag hier en kerm nogal die afgelope tyd oor ons so min onthaal.

As jy jouself in een word kan opsom, wat sal dit wees?

Vol.

As jy Pretoria in een word kon beskryf, wat sou dit wees?

Huis.

Wat is jou raad aan voornemende kunstenaars?

Gaan lê tot die gevoel oor is. (Rêrig).

Maar as jy opstaan en die gevoel is steeds daar: Gaan lê weer en drink ’n slaappil.

En as dit steeds nie werk nie: Groei ’n dik, dikker, dikste vel. Hanteer die diverse vorms van verwerping soos wat dit opdaag, dis blykbaar nooit persoonlik nie

Wat is die grootste uitdagings van jou beroep?

Armoede.

Die gebrek aan vakansie.

Die vermoë om te oorleef, op elke vlak, sonder om jou siel heeltemal te verloor.

Ander mense in die bedryf se bitter sensitiewe ego’s.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom