Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Nuus / Veenland-petisie afgekeur

’N Petisie wat deur meer as 2 000 inwoners geteken is om die veenland in die Colbyn-vallei van ’n beplande ontwikkeling te red, is deur die Tshwane-metroraad afgekeur.

Tshwane-Beeld het onlangs berig dat dié 5 000 jaar oue veenland in gedrang is weens dié beplande ontwikkeling.

Die ontwikkeling, ’n parkeer-en-ry-gerief, sal in die plek van die Colbyn-gholfoefenbaan opgerig word.

Bekommerde inwoners het dié petisie reeds in April aan die Tshwane-metroraad oorhandig.

Hulle het onlangs die nuus ontvang dat die petisie afgekeur is.

Volgens Siobhan Muller, raadslid van die DA, is ’n veenland ekologies meer sensitief as ’n vleiland en dit absorbeer groot hoeveelhede koolstofdioksied uit die atmosfeer.

“Dit is skokkend dat die vloedwaterkanaal van die beplande ontwikkeling direk in dié veenland gaan inloop.”

Sy beklemtoon weer dat dit nie duidelik is waarom ’n parkeer-en-ry-gerief juis dáár opgerig moet word nie.

“Die stadsraad het nie die publiek betrek nie. Ons as raadslede is ook net 12 dae gegee om deur al die dokumentasie te werk en daarop te reageer,” sê sy.

Muller beweer Nokie Makitla, voorsitter van die petisie-komitee, het die petisie afgekeur op grond dat daar nog geen herindelingsversoek deur die departement van stadsbeplanning en ekonomiese ontwikkeling bevestig is nie.

Makitla sê egter dat die raad nog geen aansoek om ’n parkeer-en-ry-gebied goedgekeur het nie en dat alles nog net in die beplanningsfase is.

“Ons kan dus nie op blote bespiegeling reageer nie,” sê hy.

Volgens Phalane Motale, woordvoerder van die Tshwane-metroraad, is die parkeer-en-ry-gerief deel van ’n groter plan om die verkeersvolume in Hatfield te verminder.

“Ons gaan nog ’n volledige impakstudie oor dié gebied doen sodat dit aan die nodige vereistes en regulasies voldoen.”

Sy sê ook die stadsraad sal kundiges aanstel om die nodige studies te doen soos vereis word deur die Nasionale Omgewingsbestuurswet.

“Ons wil nie hê dat dié ekologies sensitiewe gebied enigsins deur toekomstige ontwikkelings benadeel word nie,” sê Motale.

 

 

 

 

 

 

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom