Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Artikels / Taalpatriot Leon se pen is nog lank nie leeg nie

Die Pretorianer Leon Rousseau (81) se stories bekoor kinders al meer as ’n halwe eeu lank.

Jeugliteratuur soos StorieMan, StorieMuis, die Fritz Deelman-reeks en Die kaskenades van jakkals en wolf het almal uit sy pen gekom.

Die harte van aanhangers van dié verhale mag dalk net bokspring met die wete dat ’n splinternuwe StorieMan-omnibus, propvol tradisionele en plaaslike stories, pas bekend gestel is.

“Tradisionele stories is deel van ’n volk se kultuur. Dit gee die kind die gerusstellende gevoel dat hy êrens tuis hoort,” sê Rousseau.

Hoewel hy nie net jeugliteratuur skryf nie, is hy veral lief daarvoor danksy sy liefde vir kinders.

“Daarby is ek ook ’n taalpatriot,” voeg hy by.

“Dit is belangrik om kinders van baie jongs af stories te laat hoor wat hulle trots op hul eie taal maak en wat die kind natuurlik ook sy eie taal goed leer praat.

“’n Kind wat sy eie taal deeglik leer, kan ander tale makliker aanleer. Dis asof stewige taalfondamente gelê word,” sê Rousseau.

Sy eie vyf kinders het met allerlei stories grootgeword.

Sy bekroonde biografie van Eugène Marais het talle flieks en toneelstukke sedert die publikasie daarvan in 1974 geïnspireer.

Die Afrikaanse fliek Die wonderwerker is een van dié en draai tans op silwerdoeke landwyd. Rousseau het onlangs die première van die fliek in Kaapstad bygewoon.

Rousseau is ’n boorling van Kaapstad en het vier jaar gelede saam met sy vrou, die digteres Marié Blomerus, na Silverton in Pretoria verhuis.

As jong man het hy in 1959 die uitgewery Human & Rousseau saam met sy boesemvriend, Koos Human, gestig. Hy het twee dekades later afgetree.

Hoewel Rousseau die laaste ruk dikwels siek was en verlede week ook ’n pasaangeër moes kry, bly hy positief.

Vir sy gesondheid maak hy daagliks sy eie tee-mengsel en hy kook dikwels groentesop.

“Ek sal graag nog ’n paar jaar wil leef om rympies, liedjies en stories vir jong kinders te skryf.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom