Donderdag 24 April 2014
Tuisblad / Artikels / Ouma wat 101 word ‘nog steeds stout’

Sy het in haar kinderdae op ossewaens gery en verlede jaar, op haar 100ste verjaardag, het sy op die Gautrein gery.

Kotie Smith van Capital Park in Pretoria, wat Sondag 101 jaar oud geword het, het Vrydag by haar kleindogter se huis in Doornpoort gesê al is sy half blind en half doof, is sy nog baie jonk van gees.

“As mense my vra hoe gaan dit, dan sê ek ‘oud en stout’,” het sy gesê.

Dié ouma, wat drie van haar ses kinders, haar man en vyf van haar broers en susters oorleef, het volgens haar kleindogter, Marietjie de Vaal, ’n groot voorliefde om vuil grappies te vertel.

“As sy eers begin, dan hou sy nie op nie,” het De Vaal geskerts.

Smith was onlangs vir ’n week in die hospitaal vir ’n nier-ondersoek, maar dit het gou geblyk om in ’n hospitaal te wees, doen haar meer skade as goed.

“Sy het baie vinnig erg agteruitgegaan. Ons het gedink ons gaan haar verloor. Vandat sy weer tuis is, raak sy elke dag sterker en nou is sy alweer vol praatjies,” het De Vaal gesê.

Smith het nie ’n geheim tot ’n lang, gesonde lewe nie.

“Dis maar net genade,” het sy gesê.

“Al raad wat ek het is dít wees tevrede met jou lot, al is dit party dae hóé vrot.”

Dié ouma, wat haar lewe lank ’n huisvrou was, het op Bronkhorstspruit op die plaas Puntlyf grootgeword, op ’n plaasskooltjie op Witfontein skoolgegaan en in 1926 met haar man, Doors Smith, getrou. Hulle het hulle in Hazelwood gevestig.

“Doors het vir die poskantoor gewerk en ons was 50 jaar getroud voordat hy in 1977 oorlede is. Ek het nooit weer getrou nie,” het sy gesê.

Smith het ná haar man se dood na Capital Park verhuis en bly steeds in dié huis by haar dogter, Martie (64).

Die hoogtepunt van haar lewe was om haar ses kinders groot te maak. Haar drie oorlewende kinders is Martie, Kobie (70) en Phil (58).

Buiten vir húlle het sy 18 kleinkinders, 16 agterkleinkinders en 11 agter-agterkleinkinders.

Haar ander groot voorliefdes is om rose te kweek, waarmee sy eers sowat twee jaar gelede opgehou het, en om te hekel, wat sy tot onlangs nog gedoen het.

“Ek het in my leeftyd 35 komberse gehekel, om nie eers te praat van al die pantoffels en truie nie,” het sy trots gesê.

“Ek is baie geseënd want ek het ’n goeie lewe gehad en ek het nog stééds ’n goeie lewe.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom