Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Nuus / Motorwagte ‘afgedank’

‘Wat gaan nou van my word?” vra Tina Minders (59), ’n motorwag wat skielik sonder heenkome sit.

Minders is verlede week in kennis gestel dat sy nie meer welkom is by die Waverley Plaza-winkelsentrum nie.

Volgens Anne-Marie Breed, woordvoerder van City Property, eienaars van dié winkelsentrum, is die motorwagte nou oorbodig aangesien dié sentrum hul veiligheid opgeskerp het deur valhekke te installeer.

“Ons is egter nie van plan om enigiemand net uit ’n inkomste te boender nie. Ons het in samewerking met die Mantis-veiligheidsmaatskappy aan elke motorwag die geleentheid gebied om aansoek te doen vir ’n pos by dié firma,” sê Breed.

“Hoewel ’n handjievol van die wagte al lank hier werk, is daar ander wat daagliks kom en gaan. Ons het geen agtergrond of rekord oor dié mense nie. Dis gevaarlik,” sê Breed.

Volgens haar was daar al talle motordiefstalle en klagtes van klante wat beweer artikels het by die sentrum uit hul inkopie-sakkies verdwyn.

Volgens Breed werk die motorwagte onwettig op private eiendom en sien sy nie dat hulle ’n werklike bydrae tot die veiligheid van die sentrum lewer nie.

Sy beklemtoon egter dat die wagte steeds die geleentheid gegun word om formeel by Mantis aan te sluit om sodoende ’n vaste salaris te kan verdien.

Minders sê egter sy gaan nie aansoek doen vir die werk nie, omdat sy glo haar ouderdom en geslag sal teen haar tel.

“Ek weet nie watter kant toe nie. Ek werk al twee jaar hier. Hoe gaan ek nou ’n inkomste verdien?”

Minders, wat net tot gr. 8 gevorder het, sê sy neem verantwoordelikheid vir die slegte keuses wat sy in haar lewe gedoen het.

“Ek wou nie skool toe gaan nie en dis my eie skuld, maar vandag het ek berou daaroor.

“Ek is nou oud en moet vir my dogter Miriam (21) en my kleinseun Johndré (10) sorg,” sê Minders.

Die motorwagte het geen formele kontrakte met City Property gesluit om by die Waverley Plaza-winkelsentrum te werk nie.

Volgens Minders het hulle skriftelike kennisgewings ontvang waarin hulle beveel is om die perseel die volgende dag te verlaat.

Hendrika Stanley, ’n inwoner van Waverley, sê sy sal alle inkopies by dié sentrum staak indien die motorwagte nie meer daar werk nie.

“Ek is so kwaad. Ons gaan ’n petisie vir die wagte opstel,” sê sy.

Volgens haar pas hulle die motors goed op en is dit onregverdig dat hulle ná jare skielik nie meer goed genoeg is nie.

“Die kennisgewing wat hulle ontvang het, is ’n klap in die gesig. Hulle is nie misdadigers nie,” sê sy.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom