Maandag 21 April 2014
Tuisblad / Sport / Roeiers het Rio in visier

Roger Barrows, nasionale roei-afrigter van Tukkies se Sportsentrum vir Hoë Prestasie, glo nie daarin om met ’n “haelgeweer” medaljes te jag nie.

Daarom is hy reeds met sy beplanning vir die 2016 Olimpiese Spele in Rio besig.

“Ek het die afgelope agt jaar op die harde manier geleer dat absoluut niks aan die noodlot oorgelaat kan word as jy op ’n Spele suksesvol wil wees nie.

“Daarom het ons elke keer wanneer daar ’n probleem ontstaan waarvoor ons nie self oplossings kon vind nie, kundiges nadergetrek om ons te help.”

Barrows is hoopvol dat die vierman-span Sizwe Ndlovu, John Smith, Matthew Brittain en James Thompson wat dié jaar ’n goue medalje op die Spele in Londen gewen het almal tot 2016 mededingend sal roei, asook die ander twee Olimpiese roeiers, Lee-Ann Persse en Naydene Smith.

“Maar ons moet realisties wees. Dinge is aan die verander in die roeiers se lewe. Hulle is ouer en hul verantwoordelikhede raak meer. “Een van ons grootste uitdagings is nou om ’n borg of borge te vind wat dit moontlik sal maak vir dié ses om deeltyds te werk sodat hulle ’n inkomste kan verdien.

“Ongelukkig kan jy nie heeltyds werk en dink jy gaan goed genoeg wees om op die Spele te presteer nie. Een van die groot probleme is dat niemand al ooit ryk geword het deur net te roei nie. Daar is doodeenvoudig nie prysgeld op die spel nie, nie eers as jy ’n wêreldtitel wen nie.

“In roei is daar net drie dinge wat saak maak: durf, passie en hoeveel jy bereid is om op te offer.”

Barrows is eintlik baie opgewonde oor die toekoms van Suid-Afrikaanse roei.

“Vanjaar is die eerste keer dat ons roeiers daarin kon slaag om op elke belangrike byeenkoms ’n medalje te wen.

“Jenienne Curr het op die junior wêreldbyeenkoms ’n silwermedalje losgeroei en David Hunt en Vincent Breet ’n silwer op die o.23-wêreldbyeenkoms.

“Dit maak dit opwindend, want die jong roeiers sal ook teen 2016 aanspraakmakers op ’n plek in die Olimpiese span wees.

“Die ses wat nou op die Spele was, kan beslis nie bekostig om op hul louere te rus nie, want jy is net so goed as die laaste wedvaart waaraan jy deelgeneem het.”

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom