Vrydag 18 April 2014
Tuisblad / Nuus / Vind hier troos as jou kind sterf

“Om ’n kind aan die dood af te staan is die grootste verlies wat ’n mens ooit kan ly, en jy is nooit weer dieselfde daarna nie.”

So sê Jeanne van den Berg, maatskaplike werker en vrywillige berader by die niewinsgewende organisasie The Compasionate Friends (TCF), wat ondersteuning aan ouers bied wat kinders aan die dood afgestaan het.

Dié organisasie het jare gelede reeds in Engeland begin en wêreldwyd uitgebrei.

Vandag strek TCF ook landwyd in Suid-Afrika met takke in Pretoria, Johannesburg en Bloemfontein.

“Ons is ouers vír ouers en het almal dieselfde pad gestap,” sê Retha Naudé, ook ’n berader by TCF.

Volgens Van den Berg is alle beraders en betrokkenes by dié organisasie self ouers wat kinders verloor het.

Haar dogter Blyde was 25 jaar oud toe sy in ’n motorongeluk dood is.

Naudé se sewejarige seun Regard en haar man Gerhard het saam gesterf, ook in ’n motorongeluk.

Van den Berg noem dat mens dikwels ten duurste betaal om ná so ’n trauma sielkundige hulp te kry. Hoewel sy nie teen sielkundige hulp is nie, sê sy dat rou nie ’n siekte of sielkundige afwyking is nie.

Dit is ’n proses.

“Ons is ’n ondersteuningsnetwerk en bied mense ’n sagte plek om op te land. Hiér kan jy treur soveel as wat jy wil en vir so lank as wat jy wil,” sê Naudé.

TCF stap ’n pad met dié ouers of familielede en help hul deur die trauma.

Van den Berg sê dat jy nooit volkome die dood van ’n kind of geliefde kan verwerk nie, maar wel kan leer om daarmee saam te leef en later weer ander ouers kan help.

Skoenlappers is die simbool en embleem van dié organisasie.

Hoekom?

“ ’n Skoenlapper se lewe is kortstondig en gaan deur verskeie fases voor dit uiteindelik ’n pragtige vry wese is, nes die lewe van mense en veral kinders,” sê Naudé.

“Dikwels kan dit voel of ander mense jou kind vergeet en nie meer oor hulle praat nie. Dalk verwag hulle jy moet een of ander tyd oor dit kom.

Maar by TCF is jy omring deur mense wat leef vir die herinnering van hul kinders,” sê sy.

Daarom hou hulle ook jaarliks ’n reuse-seremonie ter herdenking van hul kinders waar hulle kerse aansteek, foto’s kyk en oor hul kinders gesels.

“Dis die hoogtepunt van die jaar,” sê Van den Berg.

Dit is maar een van vele seremonies en byeenkomste wat jaarliks deur dié organisasie gereël word en vind vanjaar op 28 en 30 September by die Afrikaanse Hoër Seunskool plaas.

Hoewel die organisasie volkome afhanklik van skenkings is, kos dit ouers niks om betrokke te raak nie.

  • Vir meer inligting of om betrokke te raak skakel  084 855 5303 of besoek hul webwerf by tcfp.co.za
  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom