Vrydag 25 April 2014
Tuisblad / Artikels / Vegas-eer vir broers

Suid-Afrika se pragtige natuurskoon.

Dít is die inspirasie wat gelei het tot eg Suid-Afrikaanse skeppings deur twee Pretoriase ontwerpers wat die modebedryf in Las Vegas in die VSA aan die gons het.

Die broers Johan (42) en Fritz (30) Botha van Montana in Pretoria-Noord het onlangs die Vegas-modeweek-kompetisie in Las Vegas gewen wat vir hulle ’n gesogte plek in aanstaande jaar se Las Vegas-modeweek verseker het.

Johan is al 18 jaar in dié bedryf en het sonder formele opleiding homself leer klere maak en ontwerp.

Fritz het ongeveer vier jaar gelede by hom aangesluit en hulle het saam F. Wilson Fashion Design begin.

“Ons is ’n wonderlike span en werk goed saam. Ons het uiteenlopende uitkyke as dit by mode kom en wanneer ons daardie verskillende idees saamgooi, skep ons asemrowende ontwerpe,” sê Johan.

Hulle beklemtoon dat dié bedryf nie vir sissies is nie en dat dit baie harde werk verg om naam in dié mededingende omgewing te maak.

“As jy passie het, is daar geen keer aan jou nie,” sê Johan.

Die televisiepersoonlikheid Jacinda Louw-Schutte het in ’n uitrusting deur F. Wilson Fashion Design die Vodacom Best Dressed VIP-prys by vanjaar se Durban-July ontvang.

Hulle het al ’n paar maande gelede vir dié kompetisie in Las Vegas ingeskryf, maar namate die tyd verby gegaan het, weer byna daarvan vergeet tot die dag wat hulle ’n e-pos ontvang het wat hul lewe sou verander.

Uit talle inskrywings het dié ontwerpers deurgedring na die top-tien finaliste.

Die broers was die algehele wenners van dié kompetisie en sal binnekort aan die werk moet spring om met 20 droomskeppings op die verhoog te kan spog by dié internasionale glansgeleentheid.

“Las Vegas het ons asems weggeslaan,” sê Johan.

Volgens hom kry nuwe en reeds beroemde mode-ontwerpers baie ondersteuning en erkenning in dié stad.

Die talentvolle Botha-broers sê hulle sal graag so iets ook in Suid-Afrika op ’n internasionale vlak wil bevorder.

“Ons sal graag nuwe talent in ons eie land wil ontgin en die talentvolle mode-ontwerpers in Suid-Afrika wil inspireer,” sê Johan.

Fritz meen Suid-Afrika se modebedryf is reeds goed op dreef, maar moet net ’n bietjie skop kry.

Hulle sien uit vir die uitdaging wat voorlê en ook na die toekoms van die Suid-Afrikaanse modebedryf.

“Wat jy insit, gaan jy uitkry,” sê Fritz.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom