Donderdag 17 April 2014
Tuisblad / Nuus / Busdrywer is wêreldklas en wil vroue inspireer

Die Tshwane-metroraad se busdiens is dalk in omstredenheid gehul, maar Lettah Mokhutswane (39), wat onlangs as die derde beste busbestuurder ter wêreld aangewys is, glo sy kan ’n verskil maak.

Mokhutswane van Mabopane, noord van Pretoria, het ’n derde plek behaal in die wêreld-busbestuurderkompetisie wat verlede naweek by Sun City plaasgevind het.

Busbestuurders van 18 lande het aan dié kompetisie deelgeneem.

“Ek wil vroue inspireer en hulle leer om kanse te waag sonder om bang te wees,” sê Mokhutswane.

Mans en vroue is oor dieselfde kam geskeer, wat dié prestasie vir haar ’n nog groter eer maak.

Mokhutswane was die enigste vrou wat ’n topplek in dié kompetisie behaal het.

“Ek het dit glad nie verwag nie en is baie bly. Ek hoop ander vroue sal sien dat hulle enigiets kan doen, selfs busse bestuur,” sê sy.

Hoewel sy met baie selfvertroue deelgeneem het, bieg sy dat sy tog skrikkerig was vir die Duitse bestuurders.

“Hulle is baie goed, maar bestuur ’n bietjie te roekeloos na my sin,” lag Mokhutswane.

Op die oog af lyk dit maar moeilik om so ’n reuse-bus te bestuur, maar vir Mokhutswane is dit tweede natuur.

Sy doen dit immers al 12 jaar.

Sy het eers in Brits gewoon waar sy by die Thari-busdiens gewerk het. Sy het in 2008 as busbestuurder by die Tshwane-metroraad begin werk.

“Die grootste uitdagings is om in erge verkeer te bestuur, afstand te skat, gapings te kry en heeltyd bewus van kleiner motors te wees,” sê sy.

In dié kompetisie moes deelnemers toetse skryf, businspeksies doen en ’n hindernisbaan aandurf.

Volgens Mokhutswane is daar baie tegniese en wiskundige eienskappe aan busbestuur gekoppel, veral in kompetisies.

“Volgende jaar gaan ek wen en vir almal wys dat Suid-Afrikaanse vroue kán bestuur,” beloof sy.

Mokhutswane is mal oor haar werk en die uitdagings wat daarmee gepaardgaan.

“Mens ontmoet soveel verskillende mense en sien baie mooi plekke.”

Haar gunsteling-roete is dié na Eersterust, oos van Pretoria.

“Daar ontmoet ek altyd baie bejaardes. Hul vriendelikheid en vreugde is aansteeklik.”

Mokhutswane sê sy en haar man, Matthews, deel albei ’n liefde vir groot voertuie.

“Hy bestuur vragmotors en ek busse.

“Ek wonder wie van ons die beste bestuurder is,” lag Mokhutswane.

  KOMMENTAAR 
 
top
ONS JONGSTE UITGAWE

top
LAAT JOU STEM HOOR Stel meningspeiling voor
Petrolprys
Raak die petrolprys jou sak?
Ja, ek sny my rieme al dunner.
Net 'n bietjie, maar ek kan dit nog hanteer.
Petrol is duur, maar dit raak my nie juis nie.
top
bottom