Die Lenteskou (voorheen die Pretoria-skou) sal vanjaar uitsluitlik as ’n landbouskou aangebied word.
Volgens Nigel Walker van dié skou sal daar vanjaar ’n vol program met perdesport, beeste- en karkas-aktiwiteite asook die nasionale dorper-, boerbok- en damara-kampioenskap aangebied word.
Drie landbouskole van Gauteng, Mpumalanga en die Noordwes sal ook op vanjaar se Lenteskou aan ’n karkaskompetisie deelneem. Dit behels dat hulle slaglammers voorberei.
Volgens Walker is 20 lammers aan die hoërskole Wagpos in Brits, Bekker in Magaliesburg en die Morgenzon Landbou-akademie oorhandig.
Dié lammers moet deur die leerlinge self oor ’n tydperk van 52 dae voorberei word waarvan vier voorbereide lammers deur elke skool ingeskryf sal word vir beoordeling by die Lenteskou.
Die leerlinge is verantwoordelik vir alle aspekte van die voorbereidingsproses onder meer skoon hokke, water en veiligheid, inweging, inenting en voeding.
Waar die lammers aan die begin van dié kompetisie ongeveer 30 kg weeg, is die ideale gewig na slagting tussen 18 kg en 22 kg.
Dié skole sal ook met gevestige boere tydens dié kompetisie meeding.
Die Lenteskou vind van 1 tot 6 September by die Tshwane Events Centre (Voorheen die Pretoria-skougronde) plaas. Vir meer inligting skakel 0126671980 of besoek www.thespringshow.co.za.