Die Leratong-hospies in Atteridgeville, wes van Pretoria, het onlangs ’n skenking van onder meer linne, gordyne, uniforms, handoeke en eetgerei van die Court Classique Suite-hotel en die Acardia-hotel ontvang.
Personeellede van dié hospies het gaste by die skenkingsgeleentheid verlede week met ’n hartroerende lied verwelkom.
Volgens Elsa Daniels, wat op die direksie van die Tshwane-toerismevereniging dien, het hotelle ’n beleid om ongeveer elke twee jaar sommige items in die hotel met nuweste vervang.
Franco Jordaan, algemene bestuurder van die Court Classique Suit-hotel, en Srinivas Venkatkumar, algemene bestuurder van die Acardia-hotel, het saam besluit om dié skenking te bewerkstellig.
Albei is ook lede van die Tshwane-toerismevereniging.
“Ons het gesien daar is heelwat items wat ons kan skenk en het met behulp van Daniels op die Leratong-hospies besluit,” het Jordaan gesê.
Brian Aldworth, van die Leratong-hospies, het gaste op ’n toer deur hul netjiese hospies vergesel en ook sy dankbaarheid oor die skenkings uitgespreek.
Volgens hom bied dié hospies intensiewe aandag, mediese sorg, kos en diens, sowel as liefde, aan hul pasiënte.